Wingerdboukundiges het hul tweede skatting vir die verwagte 2024-wyndruifoes ingedien, wat ’n omvattende oorsig bied van die huidige stand van Suid-Afrika se wingerde.
Die syfers – aangepas om rekening te hou met die impak van uiteenlopende weerstoestande gedurende die groeiseisoen – toon ’n geskatte nasionale wyndruifoes wat effens laer is as die eerste skatting, maar hoër as die 2023-oes, het South Africa Wine in ’n mediaverklaring gesê.
“Hoewel hierdie skatting ’n marginale 1,2%-afname van die aanvanklike Desember-skatting weerspieël, bly dit merkbaar hoër as die 2023-oes. Ten spyte van die effense daling, val die huidige projeksie vir 2024 steeds onder die vyfjaargemiddelde,” sê Etienne Terblanche, hoof van konsultasiedienste by Vinpro.
Die meeste wynboustreke het by ’n uitstekende winter gebaat, wat gekenmerk is deur lae temperature en sodoende ’n positiewe uitwerking op wingerdwinterrus gehad het.
Bogemiddelde reënval gedurende die winter het damme en grondwaterreserwes aangevul.
Die lente het uitdagings gebring, met aansienlike rypskade in chenin blanc en colombar – veral in die Worcester- en Breedekloof-gebiede. Bogemiddelde reënval en oorstromings in veral die Olifantsrivier-streek het uitdagings ingehou, wat tot hoë swamsiektedruk gelei het.
’n Drastiese verskuiwing in toestande aan die begin van die somer het wingerdreaksie beïnvloed. Matige tot warm toestande en goeie grondwaterstatus het groei bevorder, maar donsskimmeldruk was hoog – veral in die Paarl- en Wellington-gebiede.
Warm en winderige toestande in gebiede soos Stellenbosch, Kaapstad en die Swartland tydens blom en vrugset het tot beperkte oesgrootte gelei. Laat somerreën in die Kaapse suidkus, Robertson en die Klein Karoo was egter voordelig.
Produksie in die Oranjerivier-omgewing is op koers vir herstel ondanks plaaslike haelskade gedurende die feestyd. Laat somerreën in hierdie besproeiingsgebied word positief beskou.
“Aanvanklike terugvoer dui op ’n vroeër en ligter oes vir vroeë kultivars soos chardonnay, moontlik beïnvloed deur die lang, koel lentetoestande. Middelseisoenkultivars soos pinotage, shiraz en merlot toon belofte vir ’n redelike oes,” sê Terblanche.
“Veranderinge in belangrike omgewingstoestande en waterbeskikbaarheid sal die finale rypwordingsfase beïnvloed. Wingerdreaksie sal noukeurig gemonitor word om die volgende ronde skattings in Februarie aan te vul.
“Die groter oes, gekombineer met druifgehalte, is goeie nuus namate 2024 vorder,” sê Rico Basson, uitvoerende hoof van South Africa Wine.
“Dit beklemtoon ons voortgesette fokus op verbruikers en markte waar groei toeneem.”




