Goeie nuus vandeesweek in ’n tyd waarin die goeie maar skaars is – die deure van die ou Poskan­toor in die Paarl word heropen.

Die dorp is langer as ’n dekade gelede geskok toe die Poskantoor sy deure gesluit en na kleiner persele getrek het. En nou, onlangs, sommer ook algeheel uit die Paarl-middedorp.

Eens op ’n tyd was die Poskantoor ’n trotse en noodsaaklike instansie landswyd. In Paarl alleen was daar die hooftak en dan ook die Hugenote-tak.

Maar tye het verander en met die koms van digitale kommunikasie lyk dit asof daar nie meer ’n behoefte aan alledaagse pos in die hand is nie.

Nog voordat digitale kommunikasie so alledaags geraak het soos nou, het die posstelsel reeds agteruitgegaan, nes die meeste semi-staatsinstellings landswyd.

Baie van ons sal ook wonder hoekom is ’n poskantoor in die hedendaagse wêreld nog enigsins nodig.

’n Redelike gedeelte van ons gemeenskappe is wel nog nie so digitaal ingestel soos baie ander nie – dalk het hulle net nie hiervoor die kennis, toebehore of belangstelling daarin nie.

Dus gaan ’n poskantoor vir ’n geruime tyd steeds ’n noodsaaklike instelling bly.

Ons hoop terdeë dat die skuif na die oorspronklike Paarl-poskantoor ’n positiewe een gaan wees om ’n noodsaaklike diens aan ons gemeenskap te bly lewer.



,


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article