Brett Herron.Foto: Argief


Nóg ’n GOOD-raadslid Jennifer Vivian Arendse is op 22 Februarie van haar amp as Drakenstein-raadslid kwyt. Hierdie is die tweede afdanking onder dié party sedert vroeg Januarie vanjaar.

Volgens die agenda soos voor die munisipale-raad op 28 Februarie gedien, het die party se sekretaris-generaal Brett Herron in ’n amptelike kennisgewing die Drakenstein-stadsbestuurder dr. Johan Leibbrandt gevra om haar van die raad te verwyder.

“Neem asseblief kennis dat Jennifer Daniels se lidmaatskap van GOOD met onmiddellike effek beëindig is. Ingevolge die Wet op Munisipale Strukture verklaar asseblief ’n vakature van die GOOD PR aangesien Daniels ophou om ’n lid van GOOD te wees, die party waarvoor sy as ’n kandidaat gelys is,” lui Herron se skrywe aan Leibbrandt.

Die redes waarom Daniels se lidmaatskap aan die party beeindig en sy van haar amp verwyder is, is nog nie aan Paarl Post bekend nie. Maar ’n betroubare bron binne die raad beweer dat dit te doene het met dieselfde redes vir die afdanking van Edgar Arendse vroeër vanjaar.

’n Navraag was aan die GOOD-party se mediabestuurder gerig om die afdanking en redes daarvoor te bevestig. Die navraag was nie beantwoord teen die tyd van publikasie nie.

Dié afdanking volg etlike weke na een van die GOOD-party se voormalige Drakenstein-raadslede, Edgar Arendse, by die Onafhanklike Verkiesingskommissie aangemeld en strafregtelike klagte by die Valke ingedien het ingevolge artikel 34 van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite.

In ’n verklaring destyds deur Herron uitgereik, is Arendse glo in ’n tugverhoor onder voorsitterskap van ’n onafhanklike deskundige skuldig bevind op sewe aanklagte van bedrog en die oortreding van die Wet op die Finansiering van Politieke Partye.

“Die aanklagte teen Arendse het verband gehou met die onwettige aanvra van ‘ledegeld’ en ‘finansiering’ van GOOD-lede, en ‘skenkings’ van lede van die publiek,” aldus Herron se verklaring.

Herron beweer “al hierdie geld het reguit na sy sak gegaan. Geen (skenking) is aan die party verklaar of in sy bank­rekening gedeponeer soos vereis deur die Politieke Party-finansieringswet nie”.

Herron sê GOOD hef nie ledegeld nie.

Arendse het kort daarna met sy eie bewerings van valshede wat deur die party voorgehou word teruggekap.

“Die stelling wat Brett Herron, sekretaris-generaal van GOOD, op 12 Januarie 2023 gemaak het, is blatante leuens en daar is geen waarheid daarin nie,” lui Arendse se reaksie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article