Ek was op 2 Maart by die verkeersafdeling. Toe ek daar kom, het ’n lang ry mense reeds tot onder die afdak gestaan en wag. As bejaarde kry ek toe ’n sitplek onder die afdak en hoef toe nie in die ry te gaan staan nie.
Ek het skaars gesit, toe kom een van die vroue wat by die verkeersafdeling werk, na buite en kom hak by my in en sê: “Kom, mevrou, kom sit hier binne.”
Toe ek binne kom, het hulle reeds vir my ’n stoel uitgesit. Ek het daar gesit en wag. Nie lank daarna nie laat weet een van die werknemers ek sou sommer “nou-nou” gehelp word.
Binne ’n halfuur is ek klaar met my motorlisensie gehelp. Ek voel só goed oor die diens wat ek gekry het, en niemand het gekla omdat ek vorentoe geneem is nie.
Ek is darem al 84 jaar oud en ek loop skeef en krom.
Ek is baie dankbaar vir die goeie diens wat ek gekry het. Ek wil dit vir die gemeenskap sê wanneer hulle so in die koerant oor die verkeersafdeling kla. Die werkers moet ook geprys word vir die werk wat hulle doen, want hulle probeer almal so gou as moontlik help.




