Ek weet nie of daar nog KitKat- sjokolade-advertensies op die TV is nie, want my weë en dié van die uitsaaiwese het jare gelede al geskei.
Dit was ’n maklike vaarwel met tot nou nog geen nadelige effek op my lewe nie, maar vir laaank het die KitKat-sjoklits-advertensie in my kop baljaar.
Die advertensie van “Have a break. Have a KitKat” het niks te doen met aangename herinneringe van spesifieke lekker saamkuiertye voor die TV, wat nog soms in my kop spring nie. Dit was ’n knaende ding en wou my nie los nie, want ek wou weet of die produk die slagspreuk eer aandoen.
Die boodskap is mos duidelik.
’n Wondermiddel vir wanneer die werkdruk te veel word of die fisieke moeg jou vang. Dan vat jy ’n ruskans en gryp ’n KitKat. Slegs een vingertjie sjokolade bedekte wafelbeskuitjie is al wat jy nodig het, volgens die advertensieskrywer, Donald Giles.
Hy het in 1957 deur dié ikoniese slagspreuk KitKat vir altyd op die wêreldmark geplaas. Hy het selfs gesuggereer dat dit nie vetmakend is nie en ook goed is vir ’n mens se emosionele welsyn. Die sjokolade is ook pasgemaak om maklik ingepak te word werk toe vir daai breekpunt- oomblik.
Ek het rêrig hard probeer om self uit te vind of dit die waarheid is, maar die kere wanneer die moeg my gevang het, was die naaste KitKat iewers op ’n winkelrak in die dorp. My goed beplande vooruit-aankope vir die wis en onwis het nooit gewerk nie, want lekker was nog nooit sleg nie en die sjoklitjie is baie lekker.
Soos dit is, het my huishoudelike begroting begin ly, want die raad vir die moegwordtyd het ek sommer enige tyd gebruik. Ek moes weet of die advertensie waar is, want ek sou dit baie goed kon gebruik in my lewe. Nie net vir die kere wat die fisieke moeg my gryp nie, maar daai gatslae wat die lewe ’n manier het om ’n mens toe te dien. Ek het ook nie geweet of die gewildheid van die KitKat rêrig te doen gehad met die sogenaamde medisinale voordele nie en of mense net liggelowig is of dit bloot net vir die lekker koop nie?
Kry ek toe gelukkig of eintlik ongelukkig vir my, die antwoord uit ’n absoluut betroubare bron; Dries se graatjie dun niggie in Pretoria, wat hy Fatso gedoop het. Die werklas en gepaardgaande spanning van hul vinnig groeiende familiebesigheid was besig om te veel te word vir haar. Ek is maar die ma wat sy nie meer gehad het nie en ek kry daagliks selfoonboodskappe met kernwoorde soos “doodmoeg”, “gedaan”, “kannie meer nie”, “het nie tyd vir myself nie” “ek stres my dood”.
Ek praat moed in, motiveer, gee raad, probeer troos. Niks help nie. Dink toe ’n telefoonoproep kan dalk help hoewel my bron van idees vir hulp lankal reeds uitgeput is. Nietemin bel ek toe in die hoop dat ’n rustige gesprek haar gemoed bietjie sal verbeter, maar met die wegspring en my verneem, in goeder trou, na haar welstand, kom die gewone teen ’n spoed uitgemarsjeer.
Sê ek toe maar in ligte luim, “Maar Fatso, Have a break. Have a Kit Kat”. Skaars Kat klaar gesê toe: “Ek is al bankrot gevreet aan die goed en dit help f@#*! Ek vrek steeds van die moeg en wroeg oor my lot.”
Was weer ’n wetter wat teen ’n moerse betaling, soos ons land se politici, gelieg het oor hoe goed hul produk is.
Het ek toe die antwoord op my jare lange wonder oor die aanspraak van die blitsvinnige opkikkeraar en emosionele heler. Is alles die teenoorgesteld van wat ek gehoop het waarvoor ’n mens dit kan gebruik.
Sou dit rêrig gewerk het, sou ek baie emosionele spanning en fisieke uitputting vrygespring het. Het ek mos al lugkastele gebou oor hoedat ons die land sal red van die spul gekke rondom ons wat oral instorm waar engele dit nie eens waag nie.
Dink net: Dit kon wonderlik werk vir die munisipale koalisies ter voorkoming van die gereelde chaos; die spul moet net ’n ruskans vat en ’n KitKat eet.
Of: Indien Ramaphosa en sy lakeie ’n ruskans gevat het voor sy simpel besluit vir ’n bemiddelaars-trip Rusland toe, hoeveel verleentheid en geld het dit ons land nie gespaar nie?
Wonderlik kon dit ook werk voor besluitneming oor die Aarto-wet en die Nasionale Gesondheidsdiens.
Die betrokkenes was dan lekker ontspanne met geen moeg of druk nie. Die gemoedelikheid kon maklik tot gevolg hê dat hulle alles laat vaar en nog meer KitKats gaan soek om te eet. Oeps! Grootskaalse diefstal daarvan en smokkelary kon ongelukkig ook voortspruit.
Sou KitKat rêrig werk en Arthur Fraser ’n ruskans gevat het terwyl sy emosies oor Zuma se parool hom jaag, het lg. lekker KitKat – ingesmokkel natuurlik – daar binne geniet en rustig oor al sy misdrywe gedink.




