Stellenbosch se voormalige Dakar-kampioen, Giniel de Villiers, wat einde verlede jaar ook die Suid-Afrikaanse veldtydrenkampioenskap saam met sy navigator, Dennis Murphy, gewen het, jaag vanjaar in sy 20ste Dakar-veldtydren.
Die byeenkoms is ná die eerste week, wat erg onder die gunstelinge in motors en op motorfietse gemaai het, as die moeilikste nóg beskryf.
Giniel, wat vir die internasionale Toyota Gazoo Racing-renspan in ’n doelgeboude Hilux in die T1+-klas jaag, het nog elke Dakar-ren voltooi, en was in almal behalwe een onder die top-10.
Die teenspoed het Giniel-hulle vanjaar effens gery – hoofsaaklik pap bande weens die uiterste oppervlakke. ’n Mens sou dit nie in die woestyn verwag nie, maar groot dele van die roete oor vanjaar se 14 sneltrajekte en die derduisende kilometer wat die deelnemers van en na hul oornagtentkampe na die begin en van die einde van die sneldele af op openbare paaie moet ry, is baie klipperig.
Ten spyte daarvan was hy ná die eerste sneltrajek Dinsdag (10 Januarie) in die vyfde plek algeheel, maar dit het tot dusver baie beter met sy TGR-spanmaats in hul identiese Hilux’e gegaan.
“Ek kan net hoop vir minder pap wiele in die oorblywende week van die ren, soos vandag, want ons het tot dusver ’n strawwe tydjie gehad,” het Giniel Dinsdag ná sneltrajek 9 gesê.
“Ons het in die eerste week baie tyd verloor deur in oorlewingsmodus te ry, maar met ’n bietjie geluk kan ons terug op die aanval kom – veral in die sand van die Leë Kwartier.”
Die 2022-wenner, Nasser Al-Attiyah van Katar, en sy Franse navigator, Mathieu Baumel, is meer as ’n uur los voor, en die enigste jaer wat doer ver agter hom voortstorm, is hul spanmaats Henk Lategan en Brett Cummings.
Die naaste ander jaers is steeds die Brasiliaanse jaer Lucas Moraes, wat ook in ’n SA geboude Hilux jaag (hy is tweede), en Sébastian Loeb in sy Hunter in die derde plek.
Nie een van die drie tegnologiese petrol-elektriese Audi e-tron-motors, wat Giniel-hulle nie juis kon beïndruk nie, is onder die voorste tien nie en hou dus geen bedreiging vir die ses Hilux’e onder die voorste tien motors in nie.
Wat Dinsdag (10 Januarie) se eerste sneltrajek (SS 9) ná die rusdag betref, het die roete erg onder die topjaers gemaai, maar Giniel was uiteindelik die vinnigste van die drie TGR-Hilux’e.
“Uiteindelik was dit ’n redelike goeie dag,” het hy van die tentkamp by Haradh in die ooste van Saoedi-Arabië gesê.
Die Dakar-karavaan, met Giniel vyfde algeheel, Nasser nog los voor en Lategan nou vierde, het oornag na die sogenaamde Leë Kwartier in die Saoedi-Arabiese woestyn verskuif, waar sneltrajek 10 Woensdag (11 Januarie) aan die beurt was.
Die 2023-Dakar-veldtydren loop Sondag (15 Januarie) ten einde.





