Paarl Gimnasium se 0.19A-rugbyspan wys hul vreugde ná hul rekordoorwinning oor die Hoër Jongenskool Paarl in hul jaarlikse interskole-stryd.Foto: Ernest Kilowan


Die Paarl bly getooi in maroen, groen en geel nadat Paarl Gimnasium met ’n rekordoorwinning van 30 punte teenoor 8 oor die Hoër Jongenskool Paarl in die jaarlikse interskole-derby by die Faurestraat-stadion geseëvier het.

Interskole het vanjaar weer eens nie teleurgestel nie. Die atmosfeer was elektries en die pawiljoene stampvol met vurige ondersteuners geklee in die kleure van hul geliefde skole. Dit was meer as net ’n wedstryd; dit was ’n tradisie, ’n stryd wat geslagte oorskry het.

Van die oomblik toe die skeidsregter se fluitjie geblaas het, was dit duidelik dat hierdie wedstryd een vir die boeke gaan wees. Die eerste minute was fel, met albei spanne wat mekaar se verdediging met onverskrokke ywer getoets het. Paarl Gimnasium het vroeg die oorhand in gebied en besit gewen, wat die toon vir die res van die wedstryd gestel het.

Paarl Gim het sewe minute ná die afskop eerste punte aangeteken danksy sy “skerpskutter” Freek de Kock, wat sy eerste strafskop oorgeklits het. Hoewel hy ’n maklike skop in die 13de minuut gemis het, was hy met ’n suksesvolle strafskop in die 20ste minuut weer op dreef, wat Gim se voorsprong tot 6-0 vergroot het.

Die wedstryd het in die 23ste minuut ’n dramatiese wending geneem toe Boishaai met ’n geelkaart gestraf is. Dit het gelei tot ’n lynstaan en ’n rolmaal, met Gim se kaptein, Kobus Blankenburg, wat oorgeduik het vir die eerste drie. Hoewel die doelskop misluk het, het die telling na 11-0 aangeskuif.

Agt minute later het Paarl Gim die wedstryd begin oorneem.

’n Omkeer by die afbreekpunt het dié span in staat gestel om die bal wyd te werk, en Markus Moolman het die geleentheid benut deur sy span se tweede drie van die dag aan te teken. De Kock het die doelskop gemis, maar die telling was nou 16-0, met halftyd wat genader het.

In die tweede helfte het Paarl Boys High met hernude krag begin. ’n Vroeë strafskop by die afbreekpunt het Viaan Mentoor in staat gestel om sy span se eerste punte aan te teken, wat Boishaai op die telbord geplaas het met ’n telling van 16-3.

Die wedstryd het voortgegaan met intense mededinging, maar Gim het sy oorheersing bevestig met verdere drieë en suksesvolle doelskoppe, wat die eindtelling op ’n oortuigende 30-8 te staan gebring het.

Dit was ’n wedstryd wat die beste van skolerugby ten toon gestel het – tradisie, passie, vaardigheid, en die ontembare gees van jeugdige mededinging.

Quintin Potgieter van Paarl Gimnasium is tereg aangewys as die Sportmans Warehouse- Speler van die Wedstryd.

Boishaai sal kyk om volgende jaar se Premier Interskole-uitslag reg te stel, terwyl Paarl Gimnasium nog ’n jaar lank spogregte oor die dorp Paarl sal geniet.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article