Toe twee van die land se voorste skolerugbyspanne Saterdag teen mekaar kragte gemeet het, sou dit vir seker uit die staanspoor ’n baie titaniese stryd tussen dié twee skole-reuse wees.
En dit was immers so.
Maar die dag het geëindig met ’n groot opskudding, toe die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) van Pretoria op sy tuisveld die Hoërskool Paarl Gimnasium naelskraaps 29-26 geklop het. Dit was die eerste keer sedert 2012 dat Affies hierin geslaag het.
Die laaste keer dat Affies oor Paarl Gimnasium baas was, was toe die Skotse voorryman Pierre Schoeman die kaptein was en die Bok-losskakel Handré Pollard Gimmies aangevoer het.
Dié telling was destyds 27-20 in Affies se guns.
Dit was deurgaans ’n naelbytstryd wat in enige van die twee spanne se guns kon geëindig het.
Paarl Gimnasium sou voel hy was aan die stuur van sake met die telling wat in ’n stadium 26-10 in sy guns was, maar Affies het verwoed begin terugbaklei.
PA van Niekerk, Gimmies se kaptein en binnesenter, kan tevrede voel met sy vertoning.
Trouens, al was dit ’n nederlaag vir Gim, het die span steeds deurgaans Gim-guts getoon.
Gim se tweede span het 38-12 gewen, die seuns-hokkie-eerstespan het gelykop gespeel met 1-1 en die meisies het 2-0 gewen.
Hierdie naweek word ’n fees van skolerugby weer aangebied wanneer die Wildeklawer-rugbytoernooi Saterdag in Kimberley beslis word.





