Twee skole in die Paarl pronk met nuwe klaskamers. Die nuwe voorafvervaardigde (pre-fab) geboue bied verdere bystand aan die organisasie Khula Development Group (KDG), wat kinders aanmoedig om op skool te bly.
Volgens Bianca Petersen, ’n woordvoerder vir die KDG, is die klaskamers deur die Val de Vie-stigting moontlik gemaak.
“Die Val de Vie-stigting het nuwe voorafvervaardigde klaskamers by Orleansvale Primêr en Paarlzicht Primêr geopen.
“Dit is moontlik gemaak deur die geld wat by die 2023- Vodacom Shop Celebrity-gholfdag ingesamel is en bykomende finansiële ondersteuning van die Val de Vie-stigting. Personeel van Khula kan nou in hierdie nuwe klaskamers in ’n private en veilige omgewing met leerders skakel.”
KDG is ’n plaaslike organisasie sonder winsbejag, waarvan sy missie is om skoolbywoning te bevorder en te verhoed dat laerskoolleerders – van gr. R tot gr. 4 – veral in Paarl-Oos, voortydig die skool verlaat.
“Afwesigheid, akademiese prestasie en omstandighede by die huis en in die gemeenskap dra daartoe by dat leerders die skool voortydig verlaat. By Khula word die belangrikheid van skoolbywoning erken en die waarde van onderwys word geprys,” voeg Petersen by.
Daleen Labuschagne, ’n programdirekteur by KDG, het haar opregte dankbaarheid oor die klaskamers uitgespreek.
Sy het ook die uitdagings van ’n tekort aan ruimte by skole, waar hulle met leerders kan werk – veral met die groeiend aantal leerders – beklemtoon.
“Die nuwe klaskamers is ’n belangrike stap in die rigting van die verskaffing van ’n toegewyde ruimte vir ons span om hul impakvolle werk in hierdie skole in die Paarl-Oos-gemeenskap te doen.”
Nog skole sal in die nabye toekoms as deel van die projek klaskamers bykry.
. Two schools in Paarl boast with new classrooms. The new prefabricated buildings provide further assistance to the organization Khula Development Group (KDG) which encourages children to stay in school.




