Die toneel van gister (9 September) se noodlottige gewapende roof in Wellington.


’n Noodlottige skietvoorval het gisteroggend (9 September) in Wellington-middedorp die lewe van die eienaar van ’n selfoonwinkel in Kerkstraat geëis.

Volgens kol. Johan Barkhuizen, woordvoerder van die Wellington-polisie, het die voorval net na 08:00 plaasgevind by die Adi Cell Repairs and Sounds selfoonwinkel oorkant Mr. Price.

Drie verdagtes het die winkel binnegegaan. Hulle het die eienaar met vuurwapens gedreig en probeer beroof, waartydens ’n skoot afgegaan het en die winkeleienaar is in die kop geskiet.

Danksy veiligheidskameras in die nabyheid, kon die voertuig opgespoor word waarin die verdagtes gevlug het, en drie mans is in hegtenis geneem naby Mbekweni.

Barkhuizen het gesê dat die winkeleienaar in die hospitaal aan sy beserings beswyk het.

Stephan Landsberg, ’n raadslid van Wellington het ook telefonies gesê dat drie mense in verband met die skietdood en rooftog in hegtenis geneem is.

Hierdie is ’n ontwikkelende storie, en Paarl Post sal nuwe inligting byvoeg sodra dit beskikbaar is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article