Foto ter illustrasie. Foto: Nayla Charo/ Pexels


Dit is ’n alombekende praktyk vir gevangenes met ’n passie vir rugby om vir hul plaaslike klubs te speel en sodoende rehabilitasie te bewerkstellig.

Dié praktyk vind reg oor die land plaas, insluitend binne die Wes-Kaapse rugby-unie (WPRU) wat etlike jare reeds gevangenes die geleentheid gun om hul rugbyvernuf op klubvlak te beoefen deur vir sekere klubs uit te draf.

Die Drakenstein is ’n gebied waarin rugbykoors hoog loop, en sodoende speel ’n aantal gevangenes binne die gebied ook vir Paarlse klubs, insluitend die Paarl Violets asook die Allandale-rugbyklub.

Dié praktyk ontlont gemengde gevoelens met sommige klubs wat die idee teenstaan, terwyl ander die proses in die naam van rehabilitasie verwelkom.

“Die gevangenes kan óf vir ’n sekere klub speel, óf as ’n klub,” het ’n rugbyliefhebber, wat aan die Departement Korrektiewe Dienste (DKD) verbonde is, verduidelik.

Binne die Drakenstein speel gevangenes van die Allandale- asook Drakenstein-gevangenis vir of die Allandale- of die Paarl Violets-rugbyklub, terwyl ander gevangenisse soos Voorberg- of Helderstroom hul eie rugbyklubs het wat teen ander liga-spanne meeding.

Volgens dié bron asook ’n ander, wat verkies om anoniem te bly, ondersteun hulle egter die praktyk.

Die Departement Korrketiewe Dienste het nie die kapasiteit om rugby uit sy eie af te rig nie, en as deel van die DKD se ontwikkelingsprogramme het hulle nodig om gevangenes wat die talent in rugby het, en die passie met ander spelers deel, te ontwikkel.
Anoniem

“Die DKD het nie die kapasiteit om rugby uit sy eie af te rig nie, en as deel van die DKD se ontwikkelingsprogramme het hulle nodig om gevangenes wat die talent in rugby het, en die passie met ander spelers deel, te ontwikkel,” het ’n bron verder gesê.

Hierdie praktyk dien ook as ’n geleentheid vir gevangenes om kwalifikasies te behaal as onder andere skeidsregters, afrigters of noodhulp- asook administrasiebeamptes.

Volgens die bron is hierdie praktyk nie net gemik op rehabilitasie nie, maar ook op “suksesvolle herinskakeling” ná vrylating.

Hulle het verduidelik dat dié praktyk soveel meer is as “net rehabilitasie”.

Die gevangenes word geleer om oordeelkundig te wees met aggressie. Hulle moet ’n leeuhart hê wanneer hulle ’n ou takel, maar moet daarna kan opstaan en hul teenstander se hand kan vat en hom ophelp, al is hy van die ander span.
Anoniem

“Die gevangenes word geleer om oordeelkundig te wees met aggressie. Hulle moet ’n leeuhart hê wanneer hulle ’n ou takel, maar moet daarna kan opstaan en hul teenstander se hand kan vat en hom ophelp, al is hy van die ander span.”

Volgens die bron is geen ontsnappingsvoorvalle al binne die Drakenstein aangemeld nie, omdat die soort gevangene wat toestemming kry om rugby te speel, deur ’n streng keuringsproses gaan.

“Gevangenes wat gevonnis is vir prioriteitsmisdade of kategorie-een- oortredings [soos moord], moet ’n jaar lank in mediumsekuriteit wees nadat hulle uit ’n maksimum- [sekuriteit] afdeling gekom het,” het die bron verduidelik. Eers dan kan die gevangene aansoek doen as rugbyspeler.

“Die vereistes is baie streng en die veiligheidsplan wat daarmee saamgaan, word deur heelwat kantore nagesien en goedgekeur.”

’n Anonieme brief wat die Paarl Post ontvang het, verduidelik dat die skrywer ook die praktyk ondersteun vanweë die vermoë van rehabilitasie.

Die skrywer het egter sy ongelukkigheid uitgespreek oor die Young Standards-rugbyklub wat “weier om teen enige [gevangene] of gevangenespan te speel”.

Volgens die skrywer was die spelers van die Young Standards tydens die 2023-rugbyseisoen gretig om teen gevangenes te speel, maar is hulle afgeraai deur ’n bestuurslid om voort te gaan.

Die WPRU was in die verlede “ten gunste” van dié rehabilitasiepraktyk, maar tans voel die skrywer dat die unie gekant is daarteen.

Hulle skryf dat die WPRU rugbyspanne soos die Young Standards, wat weier om teen gevangenes of gevangenespanne te speel, steeds ligapunte sou toeken, al vind die wedstryd nie plaas nie.

“Dit sal dan die span ’n onregverdige voorsprong op die punteleer gee,” debatteer die skrywer van die anonieme brief.

“As ’n groot rugbyaanhanger sal ek wil sien dat gelykheid op die sportveld geld. Op die oomblik diskrimineer die WPRU asook die Young Standards- [rugbyklub] teen gevangenes.”

Die Young Standards asook die WPRU wou nie kommentaar lewer op Paarl Post se navrae nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article