Gevangene sterf ná messtekery in tronk

Een gevangene is noodlottig beseer tydens ‘n aanval op vier tronkbewaarders by Drakenstein Korrektiewe Dienste.

Credit: SYSTEM

Een gevangene is verlede Woensdagoggend (8 Februarie) by die Drakenstein Korrektiewe Sentrum noodlottig gewond nadat ’n groep gevangenes vier tronkbewaarders aangeval het.

’n Betroubare bron het aan Paarl Post bevestig dat die gevangene deel was van die aanval op die tronkbewaarders in die medium-afdeling.

“In die deurmekaarspul moes die lede hulle teen verskeie gevangenes, gewapen met messe en ander skerp voorwerpe, verdedig. Een gevangene is in die proses noodlottig gewond.”

Die vier tronkbewaarders het ook verskeie steekwonde in die aanval opgedoen en is na ’n plaaslike hospitaal geneem waar hulle weens hul beserings behandeling ontvang het.

’n Formele ondersoek na die aanval het vandeesweek begin.

“Verdere ondersoek moet bepaal wat die mees waarskynlike oorsaak van sy (die gevangene se) dood is. Dit blyk ’n bendeverwante aanval te wees, maar die presiese rede vir die aanval moet nog bepaal word.”

Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder vir die Paarl-polisie, sê die polisie het op 8 Februarie op ’n sterfgeval by ’n plaaslike hospitaal gereageer.

“ ’n Gevangene van ’n gevangenis in die omgewing is weens beserings wat opgedoen is dood. ’n Geregtelike doodsondersoek na die omstandighede word gedoen.”

Du Plessis sê die Paarl-polisie het dieselfde dag om ongeveer 16:00 op die toneel by die Drakenstein-korrektiewe-sentrum, waar die gewelddadige voorval vroeër die dag plaasgevind het, ondersoek ingestel.

“Getuies beweer bewaarders het ’n sel binnegegaan en is deur die gevangenes aangeval. Altesaam vier sake van poging tot moord, wat deur die bewaarders gemaak is, word ondersoek.”

Ter afsluiting sê Du Plessis die verband tussen die poging tot moord- en geregtelike doodsondersoek word ook bepaal.

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het verlede Woensdag dié ontstellende voorval by Drakenstein- korrektiewe sentrum, tussen Paarl en Franschhoek, bevestig.

“Vyf gevangenes het vier korrektiewe amptenare met selfgemaakte skerp voorwerpe gesteek,” het die departement se nasionale woordvoerder, Singabakho Nxumalo, gesê.

Hierdie voorval het tydens oopsluittyd plaasgevind en minimum geweld moes glo gebruik word om die aanval stop te sit.

Al die betrokkenes is vir behandeling hospitaal toe geneem.

Du Plessis het aanvanklik aan Paarl Post gesê hulle is eers in die namiddagure oor die voorval, wat die oggend agter die geslote hekke van die gevangenis plaasgevind het, in kennis gestel.

’n Volledige ondersoek is deur die DKD sowel as die Paar-polisie ingestel.

Nxumalo het gesê die departement is hoogs ontsteld oor sulke voorvalle waar gevangenes blatante disrespek vir die wet toon en daarmee spog deur amptenare weens onregmatige redes aan te val.

Die Drakenstein-gevangenis is ’n maksimum-sekuriteit-gevangenis tussen Paarl en Franschhoek, op die R301-pad in die vallei van die Dwarsrivier in die Wes-Kaap.

Dit was voorheen bekend as die Victor Verster-gevangenis, waar Nelson Mandela op 11 Februarie 1990 ná 27 jaar in gevangenisskap na vryheid gestap het.

  • One prisoner was fatally injured at the Drakenstein Correctional Centre last Wednesday morning (8 February) after a group of prisoners attacked four prison guards. A second attack took place in the afternoon.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article