Die tweejarige seuntjie Eden Lithaba se ma is hoopvol sy gesondheid sal verbeter – mits hy ’n nuwe voedingsbuis kan kry, wat kan help dat hy voeding deur sy maag in plaas van sy neus kry.
Volgens Leonora Lithaba raak haar seuntjie voortdurend siek weens longontsteking omdat die voeding wat klein Eden tans deur sy neus kry, soms in sy longe beland.
“Die dag toe hy gebore is, het dokters hom net twee dae gegee om te lewe, maar vandag is hy twee jaar oud. Ek glo en is hoopvol as hy net die PEG onder sy naeltjie kan kry sodat kos direk na sy maag toe kan gaan, sal sy gesondheid gou baie beter word.”
PEG is die afkorting vir perkutane endoskopiese gastrostomie. Dit is ’n voedingsbuis wat deur die maag gevoer word wanneer iemand nie deur die mond gevoer kan word nie.
Lithaba het ’n redelike gesonde swangerskap gehad en klein Eden was as ongebore baba ook gesond. Alles het egter in ’n oogwink verander toe Lithaba sewe maande swanger was en telkemale met ’n mes gesteek is.
“Dit is eintlik ’n baie emosionele saak omdat dit my eie dogter was wat my met ’n mes gesteek het. Sy was toe 15 jaar oud. Ek het haar op die betrokke dag aangespreek omdat sy die vorige aand sonder my en haar pa se toestemming uitgeslaap het. Ek het gesê dit is onaanvaarbaar en is nie die reëls van ons huishouding nie. Ek was van plan om kos te maak en het toe eers badkamer toe gegaan. Toe ek uit die badkamer kom, het ek by haar kamer ingegaan terwyl sy op die bed gelê het, en haar aan die arm getrek en gesê sy moet opstaan en buite gaan sit, want sy het klaar heelnag uit die huis geslaap.”
‘dit was verby traumaties’
“Op daardie presiese oomblik het sy opgespring met ’n mes in die hand en my in die kop gesteek. Daarna het sy my nog ’n paar keer gesteek, maar ek kon nie eens voel hoe die mes my liggaam tref en ingaan nie. Ek en sy het gestoei en die mes het uit haar hand geval; ek kon dit toe onder die bed inskuif. Ek het op my rug op die grond gaan lê en ’n kombersie geneem en onder my kop gesit om die bloeding te stop, maar dit het nie gehelp nie. Ek onthou hoe ek in my eie bloed verstik het.”
Lithaba het nog ’n seuntjie, wat toe vyf jaar oud was. Hy het hul buurvrou gaan roep vir hulp en die buurvrou het die ambulans ontbied. Lithaba het haar bewussyn verloor en ophou asemhaal. Suurstof na die ongebore Eden is toe afgesny en dit het groot skade aan sy liggaampie veroorsaak, wat tot sy gestremdheid gelei het. Sy slukderm het ook groot skade opgedoen en Eden kan dus nie sluk nie.
Vir Lithaba was dit ’n baie moeilike tyd in haar lewe, want sy het nie geweet hoe sy moet voel nie. Haar een kind veg vir sy lewe, terwyl haar ander kind die oorsaak is van die hartseer.
Die voorval het in Augustus 2021 plaasgevind. Dit was ook ’n moeilike tyd vir mense oor die wêreld heen, met die Covid-19-pandemie wat gewoed het.
“Ek was in die Tygerberg-hospitaal, en wat dinge nog meer traumaties vir my gemaak het, is toe ek self Covid-19 opgedoen het. Ek kon toe ook nie naby Eden kom nie en is na die covid-saal gestuur. Dit was baie erg en emosioneel en boonop verby traumaties, met alles wat ek reeds deurgemaak het, en toe word ek nog siek ook. Dit is so ’n emosionele pyn; jy weet nie eintlik van watter kant af kom die pyn nie, want dit is binne en buite. Jou hele wese is vol haat en pyn.
“Ek onthou hoe hulpeloos ek en die ander mense in daai covid-saal gelê het. Hulle slaan teen die mure en sommige loop sommer kaal. Ons was altyd vier mense wat ’n kamer gedeel het. Wat my ook baie geraak het, is die feit dat ek een oomblik nog met die pasiënt langs my gesels het en die volgende oomblik is sy dood. Ek sien nou nog hoe word aanmekaar drie nuwe mense by die kamer ingestoot nadat die ander drie dood is. Die Here het my waarlik hierdeur gedra.”
Lithaba vertel sy het aanvanklik ’n klagte teen haar dogter by die polisie aangemeld, maar dit later teruggetrek.
lewe beteken hoop
“Sy was daai tyd nog onder ouderdom en het gereeld die maatskaplike werker gesien. Sy was op programme wat haar sielkundige hulp gee. Daar was ’n saak en ná ’n lang tyd het ek maar besluit om dit terug te trek. Kyk, sy loop al klaar met ‘die doodstraf’ op haar. Ek het dit ook nie eens besef nie, totdat ek stil gaan sit het en dink.
“Dit het by my opgekom as sy elke dag na haar broer kyk, dan het sy al klaar die doodstraf weg. Dit is baie swaar om iemand te vergewe wat so iets aan jou doen, maar dit het baie lank gevat en die Here het my gehelp. Ek besef as ’n mens nie iemand vergewe wat jy haat nie, dan bind jy jou eie lewe vas. Die Here kon daai dag my en Eden se lewe geneem het, maar hy het nie. Hoewel my kind nie volkome gesond is nie, is ek dankbaar vir sy lewe.”
Met alles wat sy deurgemaak het, glo Lithaba sy moet nie op ’n hoop gaan sit en haarself jammer kry nie.
“Die Here sê terwyl daar lewe is, is daar hoop. Sy liggaam is gestrem, maar as ek in sy oë kyk, dan sien ek die lewe wat binne sy oë is. Hy is ’n baie, baie sterk seuntjie. Hy moet net gewig optel sodat die operasie gedoen kan word. Ek is baie hoopvol, want ek weet sodra my kind die operasie gaan kry, dan het hy ’n kans om langer te lewe.
“Kyk, in die dokters se oë is dit amper so dat die kind ly en hy kan maar doodgaan, maar Eden ly nie by my nie. Ek is baie lief vir hom. Hy gee my moed vir die lewe. Hy praat met my sy eie taal deur sy oë en ek verstaan wat hy vir my sê. Ek ken elke huil van hom en wat dit beteken. Ek tof hom op en maak hom mooi. Ek vertroetel vir hom, want hy is so kosbaar vir my. ’n Mens moet jou kinders baie waardeer. As dit in die Here se wil is dat Eden die PEG moet kry, dan gaan dit gebeur.”





