’n Nuwe gespreksreeks, “Dis my ding, Wellington” word van stapel gestuur by die Breytenbach-sentrum op Wellington. Dit sal die kollig plaas op Wellingtonners se passies en projekte, en hulle kans gee om te gesels oor die kreatiewe idees, hartsgoed of stokperdjies waarmee hulle hulself besig hou.
Die reeks begin Woensdag 17 Mei met ’n gesprek oor hoe die Breytenbach-sentrum in 2007 tot stand gekom het. Sedertdien het dit die kulturele hart van Wellington geword en skep ’n ruimte vir kreatiwiteit in verskillende vorme. Dis onder meer ook die tuiste van ’n tweedehandse boekwinkel, ’n kunsgalery, die Bôrdienghuis-teater, die Breytenbach Boekklub, ’n filmklub en die jaarlikse Tuin van Digters-fees.
Die drie oorblywende stigterslede, Eugenie Wiggins, Johan Conradie en dr. Manie Rust, sal meer vertel oor die pad wat hulle destyds gestap het om die Breytenbach-sentrum tot stand te bring, en wat hulle toe daartoe gedryf het.
Toegang is gratis. Bespreek by 061 156 5386.
Vir navrae, kontak Engela Duvenage by 082 874 1291.




