Foto ter illustrasie.Foto: Unsplash


Asof Suid-Afrikaners nie reeds oor kulturele en taalgrense heen onder erge verdeling ly nie, het die entstof-debat verdere verdeling onder mense gesaai. ’n Mens hoor selfs van vriendskappe en familiebande wat glo weens dié gesprek skipbreuk gely het.

Daarom het Paarl Post bereidwillige burgers gevra of hulle pro- of anti-vaks, oftewel “vakshuiwerig” is en hul persoonlike opinies oor Covid-19-entstowwe en mandate te verduidelik.

Die pro-vakser

Francois Theron, ’n voormalige antropoloog van die Universiteit Stellenbosch en mede-bestuurder van die Wellingtonse aksiegroep Stopmisdaad, verduidelik waarom hy die spuit verwelkom het.

Theron glo dit is ’n logiese, intelligente en praktiese voorsorg om as individu ingeënt te wees, sodoende voorkomend te reageer en “by te dra tot ’n versterkte mediese poel in jou land”. Hy sê sy menings is gegrond op internasionale geskiedenis en navorsing wat op pandemies fokus.

En ag hy dit as ’n noodsaaklikheid vir alle ouderdomsgroepe, selfs vir kinders van 12 jaar en ouer?

“Spoedeisende voorsorg met onmiddellike impak verg dat die mees kwesbare ouderdomsgroepe eerste ingeënt moet word. Daarna, namate navorsing ontsluit, mediese praktyk-uitkomstes bewys is en praktiese omstandighede toelaat, kan entstowwe na laer ouderdomme afwentel, soos internasionaal per ouderdomsgroep op die bepaalde tydstip voorgeskryf.”

Die wêreld is in twee geskeur deur etiese vraagstukke wat ’n entstofbeleid by openbare plekke of private maatskappye behels. Dit sluit vraagstukke soos basiese menseregte, liggaamlike integriteit en diskriminasie in.

“Dit is ’n prakties, innoverende en medies ekonomiese besluit dat ondernemings en maatskappye ’n inentingsregime prioritiseer en dat die staat so ’n proses legitimeer en selfs kostes help dra,” glo Theron.

Hy sê dit geld ook vir besoekers aan betrokke maatskappye en dat die private sektor, binne internasionale mediese praktyk, toegelaat moet word om soortgelyke inisiatiewe te begin, sonder oordrewe staatsinmenging.

“ ’n Sinvolle en holistiese benadering tot pandemie-bestuur verg dat mediese prioriteite voorkeur bo politieke, sosiaal-maatskaplike, filosofiese, juridiese, godsdienstige en selfs menseregtelike oorwegings moet geniet. Hierdie standpunt minimaliseer geensins ander oorwegings naas medici nie, maar geen staat kan dit bekostig om vas te val in uitgerekte ‘deursigtige’ en ‘demokratiese’ debatte wat nie mediese oorwegings die kernspilpunt maak nie.”

In kort, sluit Theron af, “as jy ’n mediese voorkomingsregime tydens’n pandemie wil bestuur, hou die politici ver weg!”

Die vaks-huiwerige

’n Meganiese ingenieur van Wellington, dr. Frank Duvenhage, sê wanneer algemene inentings ter sprake is, voel hy so gerus daaroor as enige regdenkende mens.

“Ek ent my kinders in teen al die ‘standaard’-virusse en siektes soos deur ’n pediater voorgeskryf. Ek is self teen die meeste siektes ingeënt, en voel hulle is veilig. Die rede daarvoor is dat hulle al oor jare kom.”

Duvenhage verstaan dat newe-effekte met die gebruik van enige medisyne ’n oorweegbare risiko inhou.

“Ek kan net dankbaar wees dat 10, 20, 30 jaar in hul bestaan newe-effekte vir hierdie stowwe baie ongewoon en onwaarskynlik is. Ek is dus nie ‘antivaks’ nie. Maar wanneer Covid-19-entstowwe ter sprake is, wat binne ’n kwessie van 18 maande van ontwikkeling tot volskaalse, wêreldwye en kommersiële verspreiding bedryf word, is ek eenvoudig nie daarmee gemaklik nie.”

Hy sê dit blyk dat die inenting se doeltreffendheid nie só goed is soos farmaseutiese maatskappye met die aanvanklike vrystelling daarvan voorgestel het nie.

“Dit is feitlik bewys dat dié entstof nie die aansteeklikheid of verspreiding van die virus keer nie. So, wat is die rasionele motivering om sulke mediese behandeling op die breër publiek of werknemers van maatskappye af te dwing?”

Duvenhage redeneer ook dat, aangesien Covid-19-sterftesyfers waarskynlik laag vertoon in vergelyking met historiese pandemies, hy eerder die risiko van Covid-19-simptome bo die “eksperimentele entstof” sal oorweeg.

“Die entstof se doeltreffendheid laat my met meer vrae as antwoorde.

“Hoekom het natuurlike immuniteit skielik ’n abstrakte en verregaande konsep geword?

“Daar is ook geen redelike gronde vir enige instelling om verpligte entstofbehandeling af te dwing nie.

“Inteendeel, dit is inderwaarheid ’n skending van menseregte, en dit is sleg vir die land se ekonomie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article