Die groep van meer as 30 mense, insluitend Cyclops-sekuriteitsmaatskappy asook ADT en ander rolspelers soos die Paarl-polisie, het die dorp deursoek en beveilig.Foto’s: Jana Scheepers


Meer as 30 rolspelers, insluitend vrywilligers soos Afriforum en private sekuriteitsmaatskappye soos Cyclops Security Solutions, asook ADT, het hande gevat met die Paarl-polisie en Drakenstein-munisipaliteit se wetstoepassers in ’n onlangse optrede om misdaad in die dorp te bekamp.

Die afgelope Vrydag (22 November) het die 30 rolspelers wat deel gevorm het van die optrede, gereël deur Afriforum in die Paarl asook Cyclops Security Solutions, by die Paarl-polisie bymekaar gekom.

Hierna het groepe van tussen vyf en 10 mense na sekere gebiede in die Paarl beweeg, onder meer die middedorp, die arboretum, Noorder-Paarl asook Denneburg, in ’n poging om polisieteenwoordigheid in dié gebiede te vergroot ten einde misdaad sodoende hok te slaan.

Volgens Theunis Fick, die eienaar van Cyclops Security Solutions, wat ook by die optrede teenwoordig was, het die polisie bevestig dat agt mense in hegtenis geneem is, van wie vyf dwelmverwant en die ander drie weens die besit van skerp voorwerpe was.

“Die optrede was ’n groot sukses, en ons [die rolspelers] beoog om weer so ’n optrede te hou,” het Fick gesê.

Die dwelms waarop beslag gelê is, het tik, mandrax en dagga ingesluit.

Een van die patrollies wat uitgevoer is naby die kanoeklub by die Arboretum.

Volgens Fick loop die Paarlse middedorp al hoe meer deur onder misdaad, veral die deel naby Rembrandt Mall, soos Breda- en Fabriekstraat, asook Nuwestraat.

Tydens dié optrede het twee private snuffelhonde gehelp om die onderskeie voorwerpe en dwelms op te spoor.

Paarl Post is uitgenooi na die optrede, wat omstreeks 19:00 begin en om 23:00 geëindig het.

Deur die loop van die aand is die arboretum ook gepatrolleer, wat tans ook ’n brandpunt is vir misdaad, volgens Fick.

Die bestuurder van die voertuig waarin Paarl Post gery het, het verduidelik dat dit dikwels uitdagend is om kwaaddoeners hiér vas te trek omdat daar baie wegkruipplek is.

Mense wat drank in die openbaar gebruik het, is meestal hier gewaar, asook ’n paar vermeende kwaaddoeners wat gevlug het sodra hulle die sekuriteitsmense gewaar het.

Daar was ook twee voertuigbeheerpunte – een in Jan van Riebeecklaan naby Build It, asook een in die hoofstraat in Noorder-Paarl.

Verskeie motoriste het hier boetes ontvang.

Volgens Fick is opportunistiese misdade in die Paarl aan die toeneem namate die feestyd naderkruip.

Volgens die tweede kwartaal (Julie 2024 tot September 2024) se misdaadsyfers, wat die afgelope Maandag (25 November) vrygestel is, is die Paarl landwyd in die top-30 van drie afdelings.

Dit sluit in inbrake by nie-residensiële persele (nommer nege; 33% laer as die vorige kwartaal); diefstal van of uit motorvoertuig (nommer 15; 16% laer as die vorige kwartaal) en winkeldiefstal (21; ’n 23%-verbetering).

Paarl-Oos is 21ste gelys vir kontak-verwante misdade – 13% laer is die vorige kwartaal.

Presies dieselfde plasing is aangemeld vir kwaadwillige beskadiging van eiendom.

Dwelmverwante misdaad in Paarl-Oos is 28ste gelys – ’n 34% verbetering.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article