Inwoners in ’n gedeelte van Mbekweni is moedeloos met die voortslepende rioolprobleem waarmee hulle opgeskeep sit.
Volgens sommige inwoners verstop die dreine gereeld wat daartoe lei dat rioolwater tot in hul erwe spoel. Dié inwoners meen die probleem het kop uitgesteek het toe die nuwe rioolaansluiting vir die Vlakkeland-behuising geïnstalleer is.
Volgens Marius Wüst, uitvoerende direkteur: ingenieursdienste by Drakenstein-munisipaliteit, het die probleem niks daarmee te doen nie. “Die (Vlakkeland) rioolstelsel is vooraf vergroot om voorsiening te maak vir die las wat die ontwikkeling op die bestaande stelsel sou hê,” het Wüst gesê.
Volgens Wüst is daar wel voortdurend probleme met die rioolstelsel in Mbekweni. “Daar is basies elke dag verstoppings wat vanuit Mbekweni aangemeld word. Verstoppings word veroorsaak deur meesal ongewenste artikels wat in die rioolstelsels beland en sluit in lappe, koerantpapier, plastiekbottels en klippe. In dié geval was dit lappe wat tydens die verstopping verwyder is.”
“Let op dat dit nie net die Mbekweni-gebied is wat hierdie probleem het nie; ook die Amstelhof- en Chicago-gebiede ondervind hierdie probleem. Rioolverstoppings wat gerapporteer word, sal so gou moontlik nadat dit gerapporteer is, verwyder word.”
Die raadslid vir wyk 12, Ludia Sindiswa Sambokwe, het by ’n onlangse raadsvergadering by die raad gepleit dat hulle die probleem moet oplos. Sy het gesê inwoners leef in haglike omstandighede en die rioolprobleem kan siektes veroorsaak. Sy glo egter die nuwe rioolaansluiting het die hierdie probleme teweeggebring.




