Party inwoners kla steeds in Hoofstraat suider-Paarl oor ’n restaurant se kamstige geraas.

Maar, sê die Drakenstein-munisipaliteit, hulle monitor pal die situasie en vind die geraasvlakke is onder beheer.

Die munisipaliteit se direkteur van gemeenskapdienste, Gerald Esau, het gesê Paarl se omgewingsbestuur-afdeling het onlangs geraasmetings by Kapstadt Brauhaus tydens ’n musiekoptrede in lewende lywe by dié restaurant gedoen.

“Die geraasvlakke het daardie aand aan die Wes-Kaapse geraasbeheerregulasies voldoen.”

Esau het gesê geraasmetings word met ’n goedgekeurde klankvlakmeter onderneem om te bepaal of ’n perseel ’n “ontstellende geraas” genereer, wat objektief en meetbaar is. Indien ’n geraas nie aan die drempel van ’n “steurende geraas” voldoen nie, kan dit steeds as ’n “geraas-oorlas” geklassifiseer word, wat subjektief is en verband hou met of die geraasvlak as redelik beskou word of nie.

Kapstadt Brauhaus het onlangs ook ’n geraasbestuursplan vir die geraas by vermaak in lewende lywe ingedien waarin die restaurant hom daartoe verbind om al die buite-skuifdeure en vensters toe te maak wanneer op die verhoog opgetree word. Verder het hulle hul daartoe verbind om alle buite-luidsprekers by hierdie geleenthede af te skakel om te verseker dat klante wat by buitetafels sit ’n normale gesprek kan voer.

Verder het Esau gesê die munisipaliteit se verordenings­toepassing­afdeling sal op na-uurse geraas-oorlas-klagtes reageer.

Klaers is aangeraai om ’n oorlas-dagboek te hou en dus rekord te hou van elke oorlas-gebeurtenis sodat die munisipaliteit se geraasbeheerbeampte kan bepaal watter soort prestasie-aktiwiteite die meeste probleme oplewer en om te verseker dat toekomstige metings ten opsigte van geraas onderneem word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article