Reddingswerkers het Donderdag (9 Mei) vir ’n vierde dag voortgegaan met hul reddingspogings van werkers wat vasgekeer is toe ’n woonstelblok in George ineengestort het.Foto: Jaco Marais


Athol Mitchell, ’n ingenieur en eiendomsontwikkelaar van die Paarl, sê hy is bereid om sy volle samewerking aan owerhede te gee nadat dit aan dit lig gekom het dat hy glo die planne afgeteken het vir die Neo Victoria-woonstelblok in George, wat Maandag (6 Mei) ineengestort het.

Die grond waarop die woonstelblok gebou is behoort aan Mitchell se eiendomsontwikkelaargroep, Neo Victoria Developments (Pty) Ltd.

Luidens verskeie nuusberigte het Mitchell aanvanklik ná die insident spoorloos verdwyn, en hierdie gerugte was ondersteun deur Thulas Nxesi, minister van arbeid, wie Donderdag op die toneel aan die media gesê het die inspektoraat in die Wes-Kaap sukkel om die eienaar van die grond in die hande te kry.

Volgens die Wes-Kaapse inspektoraat is ’n dagvaarding uitgereik om die grondeienaar op te spoor.

Die Pink Ladies-organisasie, wat na vermiste mense help soek, het Donderdag ’n plakkaat met Mitchell se gesig op hul sosiale media versprei.

Op die plakkaat sê dit dat hy glo van die Paarl is.

Paarl Post kon by nadere ondersoek vind dat Mitchell moontlik ’n inwoner van die Val de Vie spogwoonbuurt is.

Sy groep het egter Donderdag in ’n verklaring aan News24 gesê hulle is self geskok oor die insident.

“Hierdie nuwe gebou, wat byna voltooid is, was die werksplek vir talle bouwerkers, waarvan baie met die ineenstorting vasgekeer is.

“Geboue word nie gebou met die doel om ineen te stort nie. Die projekspan van spesialiste is aangestel om die beplanning, ontwerp en bestuur van die proses uit te voer en gehalte van werk te handhaaf,” lui die verklaring aan News24.

Die groep het verder aangevoer dat die veiligheid en redding van die werkers hul hoof kommernis en prioriteit is.

Hulle sê “dit is duidelik dat niks wat ná die tyd gesê of gedoen word die tragiese ramp kan ongedaan maak nie”.

“Ons sal nie ophou bid vir die beste moontlike uitkoms nie – selfs al kan ons nie voorspel wat nog gaan gebeur nie. Ons is ten volle toegewy om ons samewerking in hierdie verband te gee.”

Hoewel die grond aan Mitchell se groep behoort, voer die verklaring aan dat die konstruksie van die woonstelblok deur Neotrend Developments (Pty) Ltd en East Africa Developments (Pty) Ltd uitgevoer is.

Altesaam 81 werkers was Maandagmiddag op die terrein toe die gebou ineengestort het.

Die dodetal het Vrydagoggend tot nege gestyg nadat een persoon wat aanvanklik lewendig gevind is, in die hospitaal dood is.

Altesaam 44 werkers is nog onder die puin vasgekeer.

Uit die 37 wat uit die puin gered is, is 21 in ’n of kritieke of lewensgevaarlik toestand in verskeie hospitale opgeneem, het die George-munisipaliteit Vrydagoggend in ’n verklaring gesê.

Owerhede in George sal na verwagting die media Vrydagmiddag om 13:00 toespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article