Die Stellenbosch- internasionale kamermusiekfees (SIKMF) word van 5 tot 14 Julie in die Konservatorium in Stellenbosch gehou.

Credit: Carmen Reynolds Photography

Die Stellenbosch- internasionale kamermusiekfees (SIKMF) word van 5 tot 14 Julie in die Konservatorium van die Universiteit Stellenbosch aangebied.

Dié gewilde aandkonserte kan in die Endlersaal bygewoon word. Buitendien sal die nagenoeg 300 deelnemende studente elke dag om 13:00 en 17:00 in die Fismersaal in ’n groot verskeidenheid kamermusiekensembles te hore wees.

Musiekliefhebbers sien altyd met groot verwagting uit na die bekendstelling van die aandkonsert­program van die SIKMF. Die artistieke direkteur, Nina Schumann, het baie hard gewerk om vanjaar se program saam te stel. Dit is nou beskikbaar by https://www.sicmf.co.za/

Soos voorheen bied die personeelkonserte weer ’n aantreklike musikale spyskaart met internasionaal bekende kunstenaars in verskillende kombinasies.

Vir liefhebbers van Barokmusiek is daar Vivaldi se konsert vir viool, tjello en strykorkes, met die vermaarde Daniel Rowland (viool) en Maja Bogdanovic (tjello) as soliste.

’n Verwerking van Beethoven se vierde klavierkonsert, wat uit die komponis se leeftyd dateer, sal die eerste keer in Suid-Afrika deur die bekroonde pianis Emanuil Ivanov uitgevoer word. Ivanov, wat verlede jaar groot indruk op plaaslike gehore gemaak het, het internasionaal aandag getrek toe hy in 2019 die Feruccio Busoni-klavierkompetisie in Italië gewen het. Ander juwele uit die klassieke en Romantiese tydperke sluit in Mendelssohn se derde strykkwartet, Schubert se “Trockne Blumen” en ’n redelik onbekende, maar pragtige oktet deur Woldemar Bargiel.

Die laat-Romantiek word verteenwoordig deur Dvorák se tweede klavierkwintet, Saint-Saëns se Caprice vir blaasinstrumente en klavier en die monumentale klavierkwintet in G-mineur deur Tanejef.

Musieksterre wat weer by die fees sal optree, sluit in Nicolas Dautricourt, Madeline Adkins en Andrey Baranov (viool), Boris Andrianov (tjello), YaoGuang Zhai (klarinet), Dwight Parry (hobo), Marco Silva (trompet) en Jauvon Gilliam (perkussie). Nuwelinge sluit in die sensasionele Russiese fluitspeler Ekaterina Kornishina, Ivy Ringel (die eerste fagotspeler van die Indianapolis- simfonie-orkes), Fedor Belugin (’n violis in die internasionaal erkende David Oistrakh-strykkwartet) en die gevierde kontrabasspeler Zoran Markovic.

Die SIKMF-feesorkes en die SIKMF-konsertorkes sal by die laaste drie konserte van die fees optree.

Michael Repper sal Borodin se groot tweede simfonie saam met die Feesorkes uitvoer.

Hulle sal daarbenewens die duo Andrey Baranov en Boris Andrianov in ’n uitvoering van Brahms se Dubbelkonsert op Vrydag 12 Julie begelei, terwyl hulle op Sondag 15 Julie Bartók se Altvioolkonsert saam met Jennifer Stumm sal speel.

Maestro Repper tree die eerste keer in Suid-Afrika op. Sy album met die New York-jeug-simfoniekonsert met eerste opnames van werke van Florence Price, Jessie Montgomery en Valerie Coleman, het die eerste plek op die Billboard Chart beklee en ook ’n Grammy®-toekenning ontvang.

Dit is die eerste keer dat ’n jeugorkes hierdie onderskeiding behaal.

Die hoofwerk op die Feesorkes se program is Dvorák se immergewilde agste simfonie onder leiding van Simeone Tartaglione. Maestro Tartaglione beklee verskeie posisies in die omgewing van Washington DC. Ook hy maak hiermee sy Suid-Afrikaanse buiging. . Kaartjies vir die konserte is beskikbaar by www.webtickets.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article