Ek weet nie wie almal met my gaan saamstem nie, maar ek wil glo dat daar ’n spesiale plekkie vir al ons dierekinders in die hiernamaals is.
My lewendige belangstelling om tog iewers my pen en ink die praatwerk oor die onderwerp van diere te laat doen, kom nou al ’n geruime tydjie aan.
Kyk, dis nou nie asof ek ’n sluimerende droom het om nog eendag ’n veearts te word nie. Dis bloot net my liefde vir diere wat ek glo spesiale vermelding en erkenning verdien. Dis ook nie asof ek die baas van ’n klomp honde, konyne, reptiele of Siamese katte is nie. Nee, want die grootte van my huurwoonstelletjie laat dit net nie toe nie. Dat ek ’n verwysing het van die keer toe ek die eienaar van ’n pragtige gemmerkat was, is wel waar.
Dit was ’n ervaring wat ek nooit sal vergeet nie. En tot vandag toe het ek ietwat gemengde gevoelens oor hoe ek as die eienaar van kietsie kat gevaar het. As ek nou moet terugkyk, sou ek sê dat ek darem nie te sleg gevaar het nie. Ek moes dalk net ’n bietjie meer navorsing oor ons kat se spesie gedoen het voordat ek ja gesê het vir die oulike geskenkie van my suster af.
My nuwe gemmerkat het sommer gou my woonstel vrolik ingekleur met al sy liefde en aandag aan sy nuwe eienaar.
Die dele wat ek nie so lekker kon verstaan het nie, was die reuke wat uit my ingeboude kaggeltjie in die leefvertrek gekom het.
Ek het in dieselfde leefvertrek by tye ook smiddae voëltjievere en bloetspatsels vir Afrika aangetref.
En wie het dan nou ná ’n lang dag by die werk lus om te kom vee en mop?
Die kersie op die koek was dit wat in die kombuis gebeur het. Dieter (my gemmerkat se naam) kon net nie sy pootjies en mondjie weghou nie van my “baby hake” wat ek die oggend in die kombuiswasbak gelos het om vir die aand se bak te ontdooi.
Hard praat het net soms gehelp, en aanhou kwaad wees het glad nie saamgespeel nie, want vanaand het hy maar weer by my voete-ent kom inkruip en die mooiste, sagste katgeluidjies gemaak.
Ek moes maar meer navorsing gedoen het oor my Dieter se geite en dinge. Ek moes hom uiteindelik in die sorg van die bure laat toe ek ’n werkaanbod oorsee aanvaar het. Ek het altyd bly wonder of Dieter sonder sy baas oukei sou wees . . .
Dié van ons wat diereliefhebbers is, sal die groot rol en vreugde verstaan wat hierdie vierpotige vriende (kinders) van ons vir die siel en gemoed kan inhou, hetsy dit nou ’n katkind of ’n lewenslustige Jack Russeltjie is. Wel, die lysie kan seker nog aangaan, maar laat ek maar eers volstaan met dié twee. Wat die hondespesie betref, sal my keuse eerder by ’n spesie bly wat gemaklik by die wel en wee van ’n huisgesin kan aanpas. Met liefde en respek gesê – los maar die boerboel en dié se naasverwante vir iemand anders. Dis seker maar my liefde vir vrede en harmonie wat iets hiermee te doen het. My menswees resoneer beter met my suster-hulle se huishondjie, wat ook nou al ’n geruime tyd in die hondehemel is. Hy was die soort hond wat die mense by die kafeetjie op die hoek en in die kerk al goed geken het. Hy’t bloot net vreugde gebring – oral waar jy hom kon sien.
In die Covid-pandemietyd was dit ook ons dierekinders wat daai erge inperkings net ’n klein bietjie draagliker gemaak het.
Dis asof hulle nou maar eenmaal net verstaan waardeur ons as menslike spesie soms moet gaan, en dit is vir sulke oomblikke dat ’n kat of ’n hond se drukkie net alles orraait maak.
Dit is en bly ook vir my ’n verstommende faktor om te kan beleef hoe slim hierdie dierekinders van ons kan wees. My huidige stapmaat, CJ, is ’n sprekende voorbeeld. Hy sal klokslag elke dag net ná vyf sy draai kom maak vir sy en my gunsteling doen-ding elke dag – stap. Aan die begin was dit maar ’n geneuk om ’n bietjie aan sy dieremaniertjies op ons staptogte te skaaf. Deesdae verstaan ons twee mekaar goed en is daai stappies elke dag een groot lekkerte. Só goed verstaan ons mekaar dat ek by tye kan sweer CJ verstaan beter Afrikaans as party mense met wie ek al te doen gehad het!
En by tye gewaar ek ook daai sosialemedia-inskrywings oor waar vriende en kennisse hul dierekinders finaal moes groet. Dis dan dat ’n mens meer as ooit besef hoe spesiaal daardie band tussen die twee spesies kan en moet wees; hoe die sorg, omgee, liefde en onvoorwaardelike daarwees van ’n dierekind die grootste verskil in ’n mensehart kan maak.
Kom ons kyk mooi na ons diere-kinders, want onthou – hulle is ook maar net vir ’n tydjie aan ons geleen.




