Riverstones het Saterdag Young Gardens se drome van ’n ligatitel ’n lelike knou toegedien deur hul wedstryd in die Dal Josaphat-stadion met 20-17 te wen.
Riverstones was hoogs gemotiveerd en het Gardens uit die staanspoor met rotsvaste verdediging en hangskoppe onder groot druk geplaas. Dié taktiek van hoogskop en storm het Young Gardens hoofbrekens op die swaar en nat veld besorg.
Boonop was die Rose se lynstaanspel ’n tweede week agtereenvolgens pateties en Stones het dit genadeloos uitgebuit.
Riverstones het Gardens se terugvegpoging in die tweede helfte deeglik in die kiem gesmoor en welverdiend feesgevier ná die wedstryd.
Young Gardens is steeds die voorloper op die punteleer met 28 punte ná 7 wedstryde, maar Young Standards het 25 punte met ’n wedstryd minder gespeel.
Standards het Blues met 13-10 in ’n taai wedstryd geklop.
Eerskomende Saterdag pak Young Gardens die verdedigende ligakampioen, Paarl Rangers, op die Dal. Standards en Simondium raak slaags, terwyl Violets Blues pak. Riverstones speel teen Pêrel United.




