“Ashleigh was my vurige, selfversekerde, eiesinnige, onverskonende en toegewyde dogter. Sy was lief vir lag, en was altyd baie toegewyd met als wat sy aanpak.”
Só beskryf Alison du Toit haar dogter, Ashleigh du Toit (21), wat die afgelope Vrydagaand (23 Augustus) in ’n noodlottige motorbotsing in die Weskus dood is.
Ashleigh kom van die Paarl af en het in 2020 aan die Hoër Meisieskool Paarl gematrikuleer.
Sy was sedert graad een ’n leerder by dié skool, waar sy ’n ywerige perderuiter was wat op nasionale vlak aan verskeie dissiplines deelgeneem het, waaronder dresseer en skouspring.
Ashleigh was saam met haar kêrel, Dylan Muller (19), op pad na Paternoster waar hulle die naweek saam met haar ma sou deurbring.
Kort ná 20:00 was die paartjie, wat onderweg was van Stellenbosch waar hulle aan die Universiteit Stellenbosch studeer het, egter in ’n botsing teen ’n vragmotor betrokke.
Die twee kon eers om 18:30 uit Stellenbosch vertrek omdat Ashleigh Vrydagmiddag laat nog ’n toets geskryf het.
Die paartjie het toe omstreeks 20:00 in Hopefield gestop waar hulle brandstof ingegooi het, en daarna die laaste ent na Paternoster aangepak, maar nooit hul bestemming bereik nie.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n Weskus-polisiewoordvoerder, het die grubotsing op die kruising van die Weskus- (R27) en die Vredenburg-Hopefieldpad (R45) plaasgevind.
Ashleigh se Suzuki Swift, wat Dylan bestuur het, het tussen die vragmotor se kop en sleepwa beland.
Die vragmotor het van Velddrif se rigting af op die R27 gekom en die oorledenes van Hopefield af waar hulle by die twee-rigting-stop die pad moes kruis.
’n Saak van strafbare manslag word deur die Vredenburg-polisie ondersoek.
“Ek het binne 20 minute op die toneel aangekom, en kon met my dogter praat terwyl hulle [reddingspersoneel] haar met hidrouliese toerusting uit die kar gehaal het.”
“Ek was reeds in Paternoster, en het van daar af gery nadat ’n ooggetuie my gebel het en toe vir my ’n pin kon stuur.”
“Die ambulans het haar [Ashleigh] toe na die Life West Coast private hospitaal geneem waar hulle haar gestabiliseer het.”
“Toe hulle [die hospitaal] met toetse wou begin, het Ashleigh se hart gaan staan omdat sy te veel bloed verloor het,” het Alison hartseer verduidelik.
Volgens haar het die dokter ook gesê dat Ashleigh veelvuldige beenbreuke opgedoen het.
“Hulle het vir 45 minute probeer om Ashleigh weer by te bring.”
Volgens Alison blyk dit dat Dylan op slag dood is, maar ’n lykskouing moet dit nog bevestig.
Ashleigh was ’n derdejaar- bedryfsielkunde-student aan die US, terwyl Muller sy eerste jaar in rekenaarwetenskap voltooi het.
Die twee Matiestudente het mekaar verlede jaar in November by ’n dansplek in Stellenbosch ontmoet.
Volgens Alison wou haar dogter in haar voetspore volg – ’n bedryfsielkundige met haar eie onderneming.
Dit was Ashleigh se plan om eendag die onderneming by haar ma oor te neem.
Ashleigh laat vier sibbe agter.
Verskeie vriende van Ashleigh het hul medelye op sosiale media uitgespreek waar hulle haar as “sterk, intelligent, liefdevol en vriendelik” beskryf het.
Haar begrafnis is môre (31 Augustus) om 14:00 by die Amplify kerk in Suider-Paarl.





