’n Liefdevolle en goedhartige jongman is verlede week sonder enige rede tragies van sy familie weggeruk toe sy lewe kortgeknip is.

Die 31-jarige Lee-Roy Schoeman is Sondag 2 Februarie noodlottig gesteek deur iemand wat hy ken. Die voorval het naby sy woning in Chicago, Paarl-Oos, gebeur.

Sheronne Thompson, ’n niggie van Schoeman, vertel die gebeure het teen 23:45 afgespeel nadat ’n Uber vir Schoeman in Van der Stelstraat afgelaai het en hy te voet op pad was na Gemsbokstraat, waar hy woon.

“Aangesien die Ubers nie meer mense binne-in Chicago aflaai nie, laat hulle die mense in Van der Stelstraat uitklim. Lee-Roy het om die draai gekom, nie ver van sy huis af in Gemsbok­straat, want hulle woon op die hoek. Na bewering het Martin Ficks (32), ’n jongman wat Lee-Roy ken, hom doodgesteek.

Dit is iemand vir wie Lee-Roy altyd R2 gegee het wanneer hy gevra het. Hy (die verdagte) het Lee-Roy omhels en vir die mense by wie hy gesit het gesê “dit is my mense”.

“Toe Lee-Roy aankom, toe vat hy Lee-Roy om die nek en dis toe hy die selfoon geroof en Lee-Roy gesteek het.

“Daar in die gebied waar hy vir Lee-Roy gesteek het, was dit doodstil, maar die verdagte was nie daarvan bewus dat daar mense op die trappe van die woonstelle was nie. Selfs die mense wat saam met die verdagte gesit het, het gesê hulle het gesien hy loop na Lee-Roy toe en steek hom in sy nek. Lee-Roy is op die toneel dood verklaar.”

Thompson, wat duidelik hartseer is oor wat gebeur het, sê die moord op haar neef is ’n groot skok vir die familie en ’n bitter pil om te sluk.

“Om eerlik te wees, ek kon nie funksioneer toe ek van sy dood hoor nie. Dit voel steeds vir my dit is onwerklik. Dit voel nie vir my hy is dood nie.

“Dit voel hy het net êrens gaan kuier of dat hy êrens gaan werk het en dat hy weer ná ’n tyd sal terugkom. Ek het nog nie sy dood verwerk nie.

“Hy was ’n lieflike mens en het ons altyd laat lag, maak nie saak in wie se geselskap hy was nie. Hy het altyd vir ons gesê hy is lief vir ons.

“Enige mens wat hom geken het, kan getuig wat ’n lieflike mens hy was. Hy sou in Julie sy 32ste verjaarsdag gevier het. Hy het geen kinders nie.”

Ten tyde van Schoeman se dood het hy by Shoprite gewerk. Hy is die afgelope naweek ter ruste gelê. Hy word oorleef deur sy ouers, suster en ’n susterskind.. Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder vir die Paarl-Oos polisie, het bevestig dat ’n jong man in verband met die moord op Schoeman aangekeer is.

Hy het verlede week die eerste keer in die Paarl-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article