Nie net is hy die breier van een van die land se voorste seunskole nie, maar die Hoër Jongenskool Paarl se Sean Erasmus maak hom nou ook gereed om vanjaar die Westelike Provinsie (WP) by Cravenweek te verteenwoordig, nadat hy as hoofafrigter van die WP se o.18 vyftientalspan aangewys is.
Erasmus sê die aankondiging dra vir hom groot persoonlike betekenis.
“Dit is maar altyd spesiaal om jou provinsie te verteenwoordig, maar vir my veral om ook vir Boishaai te verteenwoordig op hierdie provinsiale vlak,” sê hy.
Volgens Erasmus is die aanstelling vir hom nog ’n geleentheid om sy ervaring te deel.
“Hierdie is weer vir my ’n geleentheid om met ’n klomp talentvolle seuns te werk en ietsie by te dra tot hul rugbytoekoms.”
Hy verduidelik dat daar vanjaar twee WP Cravenweek-spanne aangewys is.
“Daar is twee WP Cravenweek-spanne en ek is by die vyftiental die hoofafrigter,” sê Erasmus.
Hy voeg by dat hy sy rol sien as ondersteunend tot die hoofspan. “So ek sien my rol as om die hoof Cravenweek-span te ondersteun deur ’n baie sterk vyftiental te brei.”
Met spelers wat van verskeie suksesvolle rugby-skole afkomstig is, erken Erasmus dat spanbou binne ’n kort tyd altyd uitdagings inhou.
“Ek dink WP en WP-skole is ’n hoëprestasie-eenheid. Dit vat dus nie baie om die seuns te motiveer en ’n span te word in daai kort tydperk nie.
“WP-rugby is op ’n baie spesiale plek met spesiale spelers. Dit gaan alles net daaroor om daai manne se neus in dieselfde rigting te druk,” sê hy.
Trots speel volgens Erasmus ’n sleutelrol in hoe vinnig spelers inskakel.
“Vir enigiemand is dit maar ’n baie trotse oomblik om deel te wees van WP-rugby. Ons het nog altyd goeie sukses gehad en die manne koop gewoonlik redelik vinnig in,” sê hy.
Met sy ervaring in skolerugby en betrokkenheid by provinsiale en hoëprestasie-strukture, glo Erasmus dat Cravenweek ’n belangrike platform vir jong spelers bly.
“Hierdie is almal spelers vanaf top skole in die land. Cravenweek is gewoonlik daardie volgende stappie om hul rugby-ideale te bereik.
“Die fokus vir ons bly om WP-rugby te dien op ’n manier dat WP-rugby seëvier. As die span goed vertoon, sal die individu ook goed vertoon.”
Volgens Erasmus is Cravenweek ’n belangrike maatstaf vir spelers wat hoër mik.
“Dit is uiteraard die beste spelers in die land wat op so ’n toernooi meeding en is definitief ’n stap in die regte rigting vir enige speler wat graag eendag professionele rugby wil beoefen.”
Cravenweek word jaarliks beskou as die land se voorste o.18 skolerugbytoernooi waar provinsiale spanne teen mekaar meeding.
Vanjaar sal die toernooi by Grey High School in Gqeberha aangebied word, hoewel ’n amptelike datum nog nie bekend gemaak is nie.





