Foto ter illustrasie.Foto: Pexels


Die polisie ondersoek ’n saak van sakeroof nadat vyf gewapende rowers Sondagoggend (3 September) op die Gecko Lounge-restaurant in Wellington se hoofstraat toegeslaan het.

Hulle het blykbaar met ’n aantal bottels drank en geld met ’n gesamentlike waarde van sowat R51 020 weggekom.

Volgens kol. Johan Barkhuizen, stasiebevelvoerder van die Wellington-polisie, is beamptes omstreeks 09:10 na die perseel ontbied.

Barkhuizen sê volgens die klaer (die restaurant-eienaar) het een van die gewapende rowers by die toonbank op hom afgestorm.

“Die verdagte het glo ’n bofbalpet gedra en die klaer vir sy vuurwapen gevra.

“Nadat hy vir die verdagte gewys het dat hy nie gewapen is nie, het die verdagte gevra dat hy hom na die kluis neem.”

Volgens Barkhuizen het die rowers met ses bottels alkohol asook drie houers geld weggekom.

Die restaurant het Sondag op Facebook aangekondig dat hy vir die dag gesluit sal wees.

Luidens sy Facebook-inskrywing is ’n blou luikrugvoertuig soortgelyk aan ’n Chevrolet Spark in die rooftog gebruik.

Die restaurant sê niemand is in die voorval beseer nie.

“Dankie aan almal vir die boodskappe van ondersteuning en vir jul besorgdheid.

“Gelukkig is niemand beseer nie, maar almal is ietwat getraumatiseer.

“As ’n span ondersteun ons mekaar en saam met vriende soos julle sal ons ons bes probeer om sterk te staan en aan te gaan,” lui die kort inskrywing.

Niemand is nog in verband met die rooftog aangekeer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article