Tonele soos hierdie is alledaags in die Paarl in die warm somermaande. Foto: Ernest Kilowan


Ten spyte van talle klagtes oor die toestand van die oewer van die Bergrivier in die Paarl, nadat massas mense naweek ná naweek daar ontspan, het die Drakenstein-munisipaliteit weer eens verlede naweek versuim om reg en orde te handhaaf.

Daar word nou gevrees dat die situasie langs die rivier komende naweek net gaan vererger wanneer die kwik tot 44 °C kan styg.

Elke keer as die oewer deur inwoners toegepak word, word ’n see van vullis agtergelaat, talle munisipale regulasies, soos dié oor drink in die openbaar asook swem in die rivier, word verontagsaam. Dikwels vind onsmaaklike voorvalle ook plaas.

In die vorige jare het die munisipaliteit ablusiegeriewe hier aangebring en daar was gereeld wetstoepassers teenwoordig wat die situasie beheer het. Vandag is die situasie anders met geen beheer wat uitgeoefen word nie.

Paarl Post het vrae aan die munisipaliteit gestel oor die pad vorentoe.

Gerald Esau van die munisipaliteit reageer: “Die munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling tree op en reik daagliks boetes uit vir mense wat in die openbaar drink. Ander regulasies wat baiekeer oortree word, is die strooi van rommel en dit is moeilik om die skuldiges te identifiseer as hulle alreeds die perseel verlaat het. Tot op hede was ons wetstoepassingsafdeling baie doeltreffend met die uitvoer van sy pligte; die groot getalle wat die Bergrivier besoek het, maak hul taak egter uitdagend.

Die munisipaliteit is gereed vir die hittegolf wat vir dié naweek voorspel word. Ons gaan bykomende wetstoepassingsbeamptes asook buurtwagte ontplooi om die oewer van die Bergrivier te patrolleer. Ons oorweeg ook om toilette uit te plaas afhangende van hoe gou die verkrygingsproses afgehandel word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article