Daar is tans nie ‘n vernietigingsterrein vir onwettige vuurwapens en ammunisie in die Wes-Kaap nie. Foto: Pexels


Die Wes-Kaapse polisie het erken dat daar tans nie ‘n gedesentraliseerde vernietigingsterrein in dié provinsie is vir die vernietiging van onwettige vuurwapens nie.

Alle onwettige vuurwapens wat in die provinsie gevind word, moet spesiaal na Pretoria vervoer word waar dit vernietig word. Lt.Gen. Thembisile Patekile, die Wes-Kaapse polisiekommissaris, het in ‘n brief aan die provinsiale parlement vroeër vandeesmaand geskryf dat die proses om die vuurwapens en ammunisie na Pretoria te vervoer duur is, en ook ‘n groot risiko’s inhou.

“Die vervoer van vuurwapens na Gekonfiskeerde Vuurwapens, Voorsieningskettingbestuur, Silvertown, Pretoria vir vernietigingsdoeleindes is duur en ‘n hoë risiko,” skryf Patekile. Hy voeg by dat alle ammunisie ook na dieselfde perseel vervoer moet word in Pretoria. “Daar is tans geen risikovrye geskikte vernietiging (smeltfasiliteit) wat in die Wes-Kaap bedryf word nie.”

Onwettige vuurwapens en ammunisie was voorheen vernietig by twee onderskeidelike fasiliteite in die Wes-Kaap. Die een fasiliteit is Arcelor Mittal in Saldanha wat hul deure moes sluit as gevolg van finansiële verliese, en die ander fasiliteit is Cape Town Iron and Steel Works (Cisco) in Kuilsrivier wat nog steeds operasioneel is.

Dit is nie duidelik hoekom die provisiale polisie nie gebruik kan maak van die een bestaande fasiliteit nie. Volgens Patekile het hulle voorheen gebruik gemaak van Cisco se dienste, maar dat hulle dit nie meer doen nie omdat daar veiligheidsrisiko’s is en dat dit nie op hierdie stadium vir hulle aanbeveel word om gebruik te maak van Cisco nie.

In tussen sê Gillion Bosman, DA Wes-Kaapse woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, dit is ‘n klap in die gesig van die families wat geliefdes weens sinnelose skietery verloor het as gevolg van die verspreiding van onwettige vuurwapens. Hy sal ‘n navraag indien by die parlement om vas te stel wat die veiligheidskwessies by Cisco is en wat gedoen moet word om die kwessies op te los.

“Nou, meer as ooit, moet ons maniere vind om dit ‘n werklikheid te maak. SAPD sê selfs dat ‘n gedesentraliseerde proses minder riskant en meer koste-effektief sal wees. Hierdie erkenning dui daarop dat die SAPD self ‘n struikelblok is vir die hervormings wat ons nodig het om onwettige vuurwapens van ons strate af te haal. Dit is tyd dat desentralisering van sulke mandate ernstig opgeneem word,” voeg Bosman by.

  • The Western Cape police have acknowledged that there is currently no decentralized destruction site in the province for the destruction of illegal firearms.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article