Die grasietydperk vir rybewyse “verstryk gewis op 5 Mei”, het Fikile Mbalula, die minister van vervoer, verlede week aangekondig.
Hy het op ’n mediakonferensie bevestig die grasietydperk om rybewyse, wat tussen 26 Maart 2020 en 31 Augustus verlede jaar verstryk het, te hernu, eindig op 5 Mei.
“Moenie tot op die nippertjie wag nie. Ons moedig almal aan wat nog nie hul rybewys hernu het nie, om dit so gou as moontlik te doen,” het Mbalula verlede week gesê. “Die grasietydperk is slegs nog vir een week geldig. Daar sal geen verdere verlenging wees nie,” het hy verlede week beklemtoon.
Die grasietydperk is aan motoriste gegee weens die ramptoestand en die Covid-19-pandemie.
Volgens Mbalula sal wetstoepassers uiters streng optree teenoor diegene wat nie hul rybewyse in hierdie tydperk hernu het nie. Hy sê weens die grasietydperk wat binnekort verstryk, verwag owerhede ’n toename in die vraag na dienste sodat rybewyse hernu kan word.
“Planne is in al die provinsies gemaak om almal te kan akkommodeer. Dit sluit in dat kantoorure met twee uur verleng word en oor naweke, insluitend Sondae, oop sal wees.
“Motoriste wat sonder afsprake by die lisensiekantore opdaag, sal nie weggewys word nie.”
Hy sê indien motoriste eers ná die grasietydperk hul rybewyse hernu, sal hulle bykomend ’n tydelike rybewys moet kry om te bewys dat hulle hul rybewys hernu het.
“In die grasietydperk sal jy ’n strokie ontvang wat saam met jou ou rybewys as bewys sal dien.
“Dit sal geldig wees totdat jy jou nuwe rybewys ontvang.”
Hy sê 1,3 miljoen motoriste se rybewys is nog nie hernu nie, van wie die meeste tussen die ouderdom van 25 en 50 jaar is.
Hy waarsku ook versekerde motoriste dat hul versekering nie sal uitbetaal indien hulle in ’n motorongeluk is en hul rybewys nie geldig is nie.
“So, moet eerder nie kanse waag nie en gaan hernu jou rybewys,” sê Mbalula.
* Motorists will not get another extension to the licence renewal grace period that ends today (Thursday, 5 May), warned transport minister Fikile Mbalula.



