Die Wes-Kaapse minister van onderwys, David Maynier, het vandeesweek aangekondig die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) sal van volgende jaar af 161 skole in kwintiel 4 en 5 geenfooistatus bied.

Die onderskeie skole sal leiding ontvang oor hoe om die aansoekproses te hanteer. Dit is nog ’n proaktiewe inisiatief om te verseker dat elke kind toegang tot gehalteonderrig het.

Die geïdentifiseerde skole vorm deel van die altesaam 554 kwintiel 4- en 5-instellings in die Wes-Kaap. Aangesien hul huidige jaarlikse fooie laer is as die geen-fooi-drempel van R1 610 per jaar, glo die WKOD dat hierdie stap die omliggende armer gemeenskappe en die skoolgaande kinders sal bevoordeel.

Ten spyte van hierdie besluit, wat moontlik gemaak is deur die bykomen­de begroting van die provinsiale tesou­rie, bly die nasionale kwintielstelsel ’n massiewe struikelblok wat betref die toekenning van finansiering aan skole. In hierdie stelsel word skole in vyf groepe verdeel waarin kwintiel 1 die “armste” is, en kwintiel 5 die “minste arm” is.

Deidré Baartman, die DA in die Wes-Kaap se woordvoerder oor onderwys, sê: “Dit is ’n kwessie wat die Wes-Kaap al jare lank wou verander en is iets wat selfs die ANC in die provin­sie ondersteun om verander te word. Ons hoop die nasionale regering sal hiervan bewus wees terwyl hy die huidige onderwysfinansieringsmodel hersien.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article