Verskeie gebiede in die Drakenstein word daagliks met onwettig gestorte vullis bemors. Foto: Lesersfoto


Klagtes is vandeesweek uit verskeie oorde ontvang oor rommel waardeur inwoners van verskillende gebiede daagliks in die gesig gestaar word.

Lede van die publiek het hul ongelukkigheid uitgespreek oor rommel in onder meer Van der Stelstraat oorkant Chicago, Borsenbergstraat tot by die Bodalpad, Swawelstertpad asook in die Dal Josafat-omgewing.

Die klaers meen die Drakenstein-munisipaliteit kom nie sy pligte in dié verband na nie.

Paarl Post het al op verskeie geleenthede berig oor die toestand van die dorp as dit by rommel en onwettige storting kom, asook oor die pogings wat die munisipaliteit aangewend het om onwettige storting te voorkom. Buiten die weeklikse vullisverwyderingsdiens het die munisipaliteit ook mini-stortingsgeriewe in sekere gebiede aangebring, waar inwoners hul rommel kan gaan stort en wat volgens die munisipaliteit gereeld skoongemaak word.

Die munisipaliteit het ook ’n veldtog begin waarin hy inwoners aanmoedig om onwettige stortings aan te meld.

Een van die klaers meen egter die probleme kom hoofsaaklik vanweë die munisipaliteit se “sogenaamde backyarders-beleid”.

Hy skryf: “Hier word geen munisipale verordeninge vir bouregulasies en vullisverwydering en toilette per wooneenheid toegepas nie. Die mense gooi hul nagemmers op ’n daaglikse basis op die sypaadjies uit en hul wasgoed hang in die straat op die sypaadjie en natuurlik word hul vuilgoed ook op straat gestort. Dit is ons dorp en dit is ons mense. Daar is geen behoorlike munisipale wetgewing wat toegepas word nie en daarom moet die mense hierdie haglike toestande as die norm aanvaar.”

Nog ’n inwoner meen die Dal Josafat-omgewing en Ryger- en Drommedarisstrate lyk soos ’n “varkhok”. Volgens hom stort ’n nabygeleë fabriek se werkers die fabriek se vullis in hul omgewing omdat die vullishouers glo deur die munisipaliteit verwyder word nog voordat die fabriek oop is om hul houers buite te plaas. Die klaer sê gevolglik stort die werkers dan die vullis in die omgewing.

Volgens hom het hy die voorval by die munisipaliteit aangemeld, maar die munisipaliteit ignoreer glo die klagtes.

Paarl Post het verlede week die Drakenstein-munisipaliteit vir kommentaar genader. Woensdagoggend kort voor druktyd het Gerald Esau, die uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by die munisipaliteit, gereageer, maar sy terugvoering sluit glad nie die bostaande klagtes in nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article