Dit is duidelik dat die burgemeester, Conrad Poole nie net vir Drakenstein ’n verleentheid geword het nie, maar ook vir sy eie party.

Buiten die tugverhoor teen hom oor beweerde onreëlmatighede met wat neerkom op ’n “betaling-vir-werk- skandaal” is die vendetta teen die stadsbestuurder voortspruitend uit ’n grieweklag van die direkteur Ernest Saayman, wat deur die burgemeester misbruik word om verdere verleentheid vir Drakenstein te vertroetel.

Op die raadsvergadering van 14 Desember het die VF Plus verwys na ’n brief van die burgemeester dat die grief teruggetrek is en die saak as afgehandel beskou kan word.

Die kat was letterlik in die duiwehok, want die DA-leier in die raad, Lorenzo Arendse, wou dadelik weet na watter brief verwys word en het gevra vir ’n koukus.

Daarna is die burgemeester duidelik deur sy eie koukus voor stok gekry en was hy vrywillig verplig om die brief “tong in die kies” te bevestig.

Die VF Plus is tevrede dat die sogenaamde griewe-klag verval het en die stadsbestuurder in ere herstel is. Wat nou egter hinder, is sprake dat die burgemeester saam met senior amptenary onder verdenking is dat hulle ’n komplot bekonkel om die stadsbestuurder afgedank te kry – gebaseer op allerlei versinsels.

(Dit is) duidelik ’n manier van die burgemeester om die kollig weg van hom en op die stadsbestuurder te plaas.

Drakenstein kan hierdie verdere verleentheid nie een dag langer bekostig nie en die tyd het aangebreek dat die DA-leierskap – nasionaal, provinsiaal en in die Drakenstein-raad – summier van die burgemeester ontslae raak.

Ons hou die situasie saam met alle opposisiepartye in die raad dop en sal alle kanale moontlik ondersoek om hierdie uiters onsmaaklike situasie te beredder.

Intussen sal ons voortgaan om druk uit te oefen dat die tugkomitee sy ondersoek teen die burgemeester afhandel en dat die Speaker sy besluit teenstrydig met die Zuma- vs DA- uitspraak – dat Drakenstein instaan vir die regskoste van die burgemeester – summier terugtrek.

Interessant dat die DA beheerde Wes- Kaapse provinsiale parlement sy openingsitting vir 2024 nieteenstaande op 19 Februarie in Paarl sonder skaamte beoog.


Rdl. André Fourie,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article