Geduld Veldsman se verhaal is die van motivering, hoop en die waarde van onbaatsugtige omgee.


As daar nou een boek is wat ’n mens kan lees om die swaarkry van armoede te verstaan en te verbeter, is dit Rising Eagle, geskryf deur Geduld Veldsman.

Dié 38-jarige man se lewe is die klassieke verhaal van ’n kind gebore in armoede wat as volwassene in ’n suksesvolle gemeenskapsontwikkelings-magnaat ontwikkel het.

Sy sukses, reputasie en waardes het hom vooruitgeloop in die gemeenskappe waar hy dien – net soos die Wellington-gemeenskap dit ervaar het.

Hy dien tans as ’n beampte vir Drakenstein-munisipaliteit se departement van gemeenskapsontwikkeling.

Geduld se selfgepubliseerde boek het veral belangstelling in die Overberg-streek gelok. “Ek het al 750 kopieë van die boek verkoop wat in dié streek groot aanklank gevind het by skole in Villiersdorp soos die Hoërskool De Villiers Graaff, wat die boek vir hul onderwysers voorgeskryf het. Die boek toon die rol wat onderwysers in my lewe gespeel het, en hoe hulle tot my sukses in die lewe bygedra het.”

Hy meen dat onderwysers heelwat uit sy verhaal kan haal om hul leerders te bemagtig.

Wat Geduld so uniek in sy omstandighede op skool gemaak het, was dat hy eers op 10-jarige leeftyd op die skoolbanke beland het in Newton Primêre Skool.

“Dit was uitdagend, want ek was altyd die oudste in die klas, in ’n stadium toe ek nie eens my eie naam kon skryf nie. Ek het ’n algehele agterstand gehad tussen die jonger leerders.”

Hy kom uit ’n gesin met meer as ses sibbe wat met die uitdaging van hul ouers se alkoholmisbruik grootgeword het.

“Ons het op ’n plaas naby Boschenmeer in Paarl gewoon. My ouers was nie opgevoed nie en destyds was daar baie oningeligtheid oor kinders wat skool toe gestuur moet word.”

In die boek skryf Geduld dat sy ouer broer hom by die skool laat inskryf het met sy geboortesertifikaat, nadat hy hul ma gevra het wat van Geduld sou word wanneer hy ’n groot man is wat nie kan lees of skryf nie.

“Jy weet wat is swaarkry as jy elke dag omtrent net pap as ’n maaltyd eet. Ek onthou so baie dae op skool hoe my aandag afgelei is deur my maag wat grom.”

In ’n stadium het sy tante die gesin genooi om in Wellington by hulle te kom woon. “Ons was omtrent so nege mense wat in een karavaan gewoon het. Dit was werklik uitdagend.”

Geduld praat van die gebrek aan ’n gevoel van aanvaarding wat hom weerhou het om werklik te presteer.

“Tot die dag dat ek in graad 7 by klubrugby kon aansluit toe ek omtrent so 16 jaar oud was. Toe kon ek voel ek kan uiteindelik iewers inpas.”

Dit het Geduld laat terugdink aan ’n graad 7-onnie, Thomas Matthee, wat eendag die volgende op die swartbord geskryf het: “Wenners is nie bang om foute te maak nie, wenners doen wat elke dag gedoen moet word.”

“Daai woorde het my lewe verander. Hy het my horison verbreed en was soos ’n tweede pa-figuur vanweë die belangstelling wat hy in my lewe getoon het.”

Meneer Thomas het hom gehelp om by die Hoërskool Weltevrede in te skryf om te verseker dat hy in Wellington by sy tante kan aanbly, danksy Newton Primêr wat die registrasiegeld betaal het.

“My tannie wou my in ’n stadium terugstuur na my ouers in die Paarl, omdat dit moeilik geraak het vir haar om na haar twee seuns en my om te sien. Ek wou so graag in Wellington aanbly dat ek besluit het om ’n kerktent in die dorp gedurende die week op te pas en dit as skuiling gebruik het.”

Daar het toe ’n tydperk gekom waarin die gebed van Jabes groot betekenis vir hom gekry het en dit is toe juffrou Carol Morilly sy lewe betree het.

“Sy vertel hoe die gebed van Jabes met haar praat, en dit is toe dat ek onherroeplike vertroue in haar kry. Sy het elke maand ’n porsie van haar salaris aan my afgestaan om vir my skoonheidsmiddels te betaal.”

Geduld het goed gevaar op skool, soveel so dat hy op 22 jaar die hoofseun van Hoërskool Weltevrede geword het. Hy bieg dat hy nooit akademies baie sterk was nie, maar sy karakter het sy weg gebaan na mense se harte wat vir hom wou omgee.

“Die jaar 2006 het aangebreek en ek het matriek geslaag, maar ek het geen benul gehad oor wat ek ná skool sou doen nie. Toe was daar ’n tannie van die gemeenskap, Elizabeth Loose, wat my eendag bel en vra wat ek gaan maak.

“Sy sê toe vir my ek moet by Hugenote-kollege aansluit. Sy, en vele ander in die gemeenskap, het my deur universiteit ondersteun waar ek vanweë ’n sense of belonging akademies baie beter gevaar het.”

Hy het ’n BA-graad in gemeenskapsontwikkeling verwerf en is kort ná sy gradeplegtigheid ’n pos aangebied.

“Ek is ’n pos in gemeenskapsontwikkeling in Bonnievale aangebied nadat dié gemeenskap my verhaal gehoor het.”

Vir meer inligting oor Rising Eagle, stuur gerus e-pos na geduldv5@gmail.com

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article