Die DA in die Wes-Kaap sê dit is kommerwekkend om te verneem dat die polisie se radiostelsel aan die einde van Januarie vir amper ’n week nie gewerk het nie en beamptes WhatsApp moes gebruik om noodgevalle met mekaar te kommunikeer.
Dié onthulling is onlangs deur Ian Cameron, ’n misdaadsaktivis verbonde aan Action Society, gedoen en toe later deur die polisie bevestig.
Cameron het in ’n videoverklaring gesê hoewel die polisie aan die einde van verlede maand op die 10111- noodlyn bereik kon word, het ’n gebroke radiostelsel in dele van die Kaapse metropool hulle verhinder om noodgevalle wat aangemeld is, vanaf die kontaksentrum in Maitland by beamptes op die straat uit te kry.
“Sommige beamptes moes toe noodgedwonge van WhatsApp gebruik maak. In gebiede soos Khayelitsha is daar geen ontvangs tydens beurtkrag nie, dus het WhatsApp nie hier gewerk nie.
“Daar was gevolglik ’n aantal gevalle waar bendes in hierdie gebiede op polisielede geskiet het en hulle nie bystand kon ontbied nie.”
Volgens Cameron is die polisie in die Wes-Kaap se radio’s verouderd.
“Hierdie radio’s is oorspronklik in die 1980’s uitgereik en is nog nooit vervang nie. Hoewel baie van hulle oor die jare gereeld gediens is, dink net hoe doeltreffend ’n radio, wat so oud is, vandag nog kan wees.”
Hy sê die polisie in die Wes-Kaap se hulpbronne is verouderd in vergelyking met ander provinsies soos Gauteng en die Oos-Kaap.
“Hierdie provinsies het intussen beter radio’s ontvang. Hulle het ’n hele nuwe stelsel wat goed werk en nie die probleme gee wat in die Wes-Kaap ervaar word nie.
“Hoekom moet ons week ná week oor dieselfde goed kla? Dit is hoekom so baie polisiebeamptes bedank en eerder by ander veiligheidsagentskappe betrokke raak, waar hulle nie net beter betaal word nie, maar ook toerusting kry wat werk,” het Cameron verlede week gesê.
Gillion Bosman, ’n DA-lid van die Wes-Kaapse wetgewer belas met polisieaangeleenthede, het by navraag aan Paarl Post gesê die polisie in die provinsie drink aan die agterspeen met betrekking tot hulpbronne van die nasionale regering af.
“Ons het verlede jaar dieselfde probleem gehad. Die werklikheid is dat hierdie gebroke toerusting lewens kan eis. Ons eise vir beter toerusting aan die nasionale regering val egter op dowe ore.”
Volgens Bosman het die Stad Kaapstad sy eie kontaksentrum vir die polisie aangebied, maar die nasionale polisieleierskap het kapsie gemaak.
“Daar heers ’n algemene agterstand in die toerusting en hulpbronne waarmee ons polisiebeamptes in die provinsie moet klaarkom. Sowat 77% van ons polisiekantore het nie genoeg beamptes nie, en – nog belangriker – nie genoeg speurders om misdade op te los nie.”
Bosman sê die jongste kommunikasie-uitdagings is opnuut by beide die provinsiale en nasionale polisieleierskap geopper.
Intussen het Brig. Novela Potelwa, ’n polisiewoordvoerder, bevestig kommunikasie-uitdagings is aan die einde van verlede maand wel tussen polisiebeamptes en hul kontaksentrum in Maitland ervaar.
Volgens Potelwa is “spesiale onderdele” aangekoop met die oog om toekomstige uitdagings te voorkom.





