Gebaretaal is op 19 Julie as amptelike twaalfde landstaal aanvaar. Ilzé Aäron, wat in 2021 haar onderwyskwalifikasie by die Universiteit Stellenbosch se fakulteit opvoedkunde verwerf het en die eerste dowe student by die fakulteit was, is opgewonde hieroor.

“Om gebaretaal as die amptelike twaalfde taal te hê stel my in staat om meer vrylik te kommunikeer. Ek dink dit sal mense in die samelewing motiveer om meer te wil leer oor die taal en dit sal baie dowe persone se lewe verbeter. Vir my persoonlik dink ek dat hierdie mylpaal nuwe deure sal oopmaak en dat die dowe gemeenskap meer erkenning sal kry.”

Aäron is oorspronklik van die Paarl en is verlede jaar aangestel as die provinsiale tesourier vir DeafSA Wes-Kaap.

Reeds op skool het gebaretaal vir haar ’n groot verskil gemaak. Sy het van ’n sukkelende leerder in ’n gewone skool verander na ’n suksesvolle leerder by die De la Bat Skool vir Dowes in Worcester. Hierdie skool het haar later gevra of sy nie belangstel om by die Universiteit Stellenbosch te studeer nie. Dit het daartoe gelei dat sy aansoek gedoen het vir haar BEd-kwalifikasie by die fakulteit opvoedkunde en sodoende het sy die eerste persoon in haar familie geword wat ’n graad verwerf het. “My ervaring by die Universiteit Stellenbosch het van my ’n beter mens gemaak en ek sal dit altyd onthou omdat ek die ondersteuning gekry het wat my inspireer het om my droom te bereik.”

Vandat sy in 2021 gradueer het, gee sy onderwys vir ’n gr. 3-klas by die Dominikaanse Wittebome Skool vir Dowes. Aangesien daar ’n tekort is aan onderwysers wat gebaretaal ken, moes sy al baie verskillende rolle by die skool vul. Sy durf vir die res van 2023 ’n pos in die senior fase in Suid-Afrikaanse Gebaretaal en fisiese onderrig aan by dieselfde skool. “Hierdie posisie is vir my opwindend en ek sien uit om my ervaring as ’n onderwyser uit te brei. Met die wete dat gebaretaal as die twaalfde taal aanvaar is, sien ek uit om ’n groot verandering te bring in die lewe van die dowe leerders en die dowe gemeenskap.”

Dit is vir haar ’n groot voorreg om met dowe leerders te kan kommunikeer in die taal wat hulle verstaan. Sy is dankbaar vir wonderlike kollegas wat haar motiveer om elke dag ’n beter onderwyser te word. Dit is vir haar belangrik om elke dowe kind se behoeftes eerste te plaas en almal dieselfde te behandel.

Aäron beplan om verder te studeer in sielkunde sodat sy ook met dowe leerders oor hulle geestesgesondheid kan gesels. “My missie is om elke dowe leerder te laat verstaan dat hulle in staat is om die onmoontlike te bereik en dat hulle gehoor kan word.”

. Die artikel het oorspronklik op die webblad van die Universiteit Stellenbosch verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article