Die gat op die verlate bouperseel in Birdstraat, Stellenbosch.Foto: Rasaad Adams


Die Stellenbosch-munisipaliteit sê hy gaan homself na die hof wend om regstappe te neem teen die eienaar van die verlate bouperseel langs die Rooms-Katolieke kerk in Birdstraat, Stellenbosch, wat tot vandag toe versuim het om die toestand van die perseel te verbeter wat in Oktober 2022 twee studente se lewens geëis het toe hul voertuig in ’n verlate steengroef ingeploeg het.

Die Stellenbosch-studentegemeenskap is in Oktober 2022 in rou gedompel toe ’n twee dae lange soektog na Leila Lees (18) en Ethan Kirkland (19) tragies geëindig het.

Die twee studente, wat sedert die Saterdagoggend gesoek is, se lyke is die Maandag (24 Oktober 2022) in hul Subaru Forester in ’n gat (steengroef), wat in daardie stadium met water gevul was, gevind.

Die gat op die perseel was deel van ’n ontwikkelingsprojek wat bykans drie dekades gelede gestop is toe die ontwikkelaars glo nie aan sekere bouvereistes voldoen het nie.

Lees en Kirkland was albei studente aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Die tragiese voorval het in daardie stadium weer Stellenbosch-inwoners, wat al jare kla oor die gevaar wat die verlate bouperseel inhou, aan die praat gehad.

“Indien ’n ordentlike muur om die perseel gebou was, sou dit dalk verhoed het dat daardie jongmense hul lewe verloor het. Dis ’n gat waarin enigiemand gegooi kan word. Vroue kan hier verkrag word,” het Stephanie Heneke, ’n nabye inwoner, in daardie stadium aan News24 gesê.

Leila Lees (18) en Ethan Kirkland (22)Foto: Verskaf

In die vroeë 1990’s is goedkeuring gegee vir ’n multi-residensiële gebou om op die grond ontwikkel te word.

Die eienaar het egter nie aan sekere bouvereistes voldoen nie, en meer spesifiek geweier om ’n voorgeskrewe glipbaan te ontwikkel wat gebruik sou word om toegang tot die eiendom te kry.

Paarl Post verstaan dat die grond aan ’n sakeman, Daniel de Canha, behoort.

Stuart Grobbelaar, die Stellenbosch-munisipaliteit se woordvoerder, het vandeesweek aan Paarl Post gesê die munisipaliteit het deurlopend met die eienaar kontak gemaak om die ontwikkeling van die betrokke eiendom te fasiliteer.

Volgens Grobbelaar was die idee aanvanklik om die eienaar te help om die ontwikkelingsproses te bespoedig.

Hy sê die aangestelde argitek is aangemoedig om konsepbouplanne in te dien in die afwesigheid van die grondgebruikgoedkeuring om toe te sien dat dit aan die Dennesig-ontwerpsriglyne voldoen.

Informele konsultasiesessies is vroeg in 2021 met die argitek gevoer waartydens die konsepbouplanne afgehandel en goedgekeur is.

Grobbelaar sê ongeag hierdie bystand deur die munisipaliteit het die eienaar steeds versuim om die grondgebruiksproses aan die gang te kry.

Die munisipaliteit het op 10 Maart 2022, ná ’n oorsigbesoek aan die perseel, weer met die eienaar vergader waartydens daar onder meer bespreek is dat ’n aansoek ingedien moet word vir die verkryging van ’n klein deel van die naburige Rooms-Katolieke kerk se grond.

Hierdie grond is glo nodig om voldoende toegang tot die eiendom te fasiliteer.

Die vermiste tieners se voertuig word in Oktober 2022 uit die gat in Birdstraat uitgetrek.Foto: Argief

“Op die vergadering van 10 Maart het die eienaar onderneem om die aansoek vir Katolieke kerk-grond in te dien, om behoorlike heinings rondom die eiendom op te rig, die eiendom te dreineer en skoon te maak, asook om voort te gaan met die aansoek om die vereiste grondgebruikregte,” het Grobbelaar verduidelik.

Hy sê hoewel die eerste twee ondernemings nagekom is, het die eienaar tot vandag toe steeds nie aan die laaste twee aandag geskenk nie.

Volgens Grobbelaar is hulle in Junie 2022 ingelig dat die eienaar gesondheidsprobleme ervaar, waarna daar pogings aangewend is om met sy seun in kontak te kom.

“Ons het die bevindings van die oorsigbesoek met die eienaar se seun gedeel, met wie ons tot op hede nie ’n vergadering kon belê nie. Ons laaste pogings was in Augustus 2023.

“Die munisipaliteit het alle pogings aangewend en uitgeput om die ontwikkeling van die eiendom te fasiliteer en die eienaar te dwing om die toestand van die eiendom te verbeter.”

Hy sê die munisipale raad het op 25 Oktober verlede jaar eenparig besluit dat hy eersdaags formele hofprosesse teen die eienaar sal bring.

Die raad is tans besig om die finale hofstukke te finaliseer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article