Die Paarlse skrywer Gaireyah Fredericks se eerste bundel kortverhale is sopas gepubliseer.


Een voet innie kabr is ’n Afrikaanse kortverhaalbundel, polsend met Kaaps-Maleise invloede. Jy hoor die klanke van dié gemeenskap, musky en soet soes ryke ytdie Jannat.

Die Paarlse skrywer Gaireyah Fredericks se debuutbundel kry dit reg om gemarginaliseerde karakters en vertellers op die voorgrond te plaas. Die tailor-dokter met sy briefcase vol sample-lappe, maatband en pen. Die pyn van ’n vrou wat haar pasgebore tweeling moet begrawe. Ennie stryd vannie pligsgetroue, prim en proper Marielda.

En dan is daar is oek Ghoemeira wat tradisionele waardes met moderniteit moet versoen. In dié wêreld wat Fredericks oepskryf, bestaan die Moslemgeloof saam met bygeloof en drome.

Gaireyah se bundel verryk behoorlik die Afrikaanse letterkunde se skatkis.

Gaireyah het in 2012 by die Breytenbach-sentrum in Wellington begin skryf. Sedert 2015 het sy sewe digbundels self gepubliseer.

Sy het toekennings verower vir toneelspel en draaiboekskryf, en lees gereeld haar werk voor by feeste, insluitend die McGregor Poësiefees en Woordfees.

In 2019 het sy die tweede plek in die AVBOB-gedigtekompetisie verower met haar gedig “Dood”.

Sy het die Neville Alexander-prestigeprys gewen vir haar onselfsugtige bydrae tot die ontwikkeling van plaaslike gemeenskappe, met die gebruik van taal en die validering van moedertaal as ’n instrument om te verenig en brûe te bou.

Gaireyah het ’n reeks aanlyn werksessies ontwikkel om opkomende skrywers op te voed oor selfpublikasie, die verhouding tussen die skrywer en hul omgewing, en hul werk.

Sy het ’n BA Honneurs in Afrikaans van die Universiteit van Wes-Kaapland en ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns van Rhodes Universiteit verwerf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article