Franschhoek se flank Charles Williams byna onstuitbaar teenoor sy Paarl-teenstanders in hul rugbywedstryd Saterdag. Paarl wen die stryd 26-17. Foto: Emile Krotz


Franschhoek-rugbyklub het Saterdag 19 Maart sy jaarlikse Guardian Angels-dag aangebied ter nagedagtenis aan die slagoffers wat hul lewe verloor het in ’n tragiese busongeluk vroeg in 2015. Dié dag het ’n jaarlikse instelling geword en word deur ’n groot aantal ondersteuners bygewoon.

Die spanne van Van der Stel (Stellenbosch) en Paarl-rugbyklub was vanjaar Franschhoek se besoekers. Franschhoek se o.20-span klop hul eweknie van Paarl 26-12, terwyl Paarl se tweedes 12-5 met Van der Stel s’n afreken. Die tuisspan se tweede span kry ’n groot loesing van 7-37 deur Van der Stel se eerste span.

Die hoofwedstryd van die dag was tussen die gashere en hul buurman, Paarl Rugbyklub. Hoewel die twee spanne in verskillende ligas speel (Paarl Super liga A en Franschhoek B), word hierdie derby altyd as ’n titaniese een beskou en Saterdag was geen uitsondering nie.

Paarl was reeds vroeg op die telbord toe Riaan “Bitter” Williams ’n drie binne die eerste paar minute druk ná verskeie fases. Die doelskop was egter links verby en die besoekers loop met 0-5 voor. Enkele minute daarna slaan Franschhoek terug met ’n vyfpunter in die vorm van die flank, Charles Williams. Hierdie doelskop word ook verbrou en sake is gelykop, 5 elk.

Die span van Paarl val verwoed aan, maar ’n pluimpie moet gaan aan die verdediging van Franschhoek. Ná minute binne Franschhoek se kwartgebied en sentimeters van hul doellyn, kon die besoekers eenvoudig nie punte aanteken nie.

Die bal is weer in Franschhoek se besit en ’n slim skoppie deur Diego Jacobs stel die Franschhoek-kaptein, Justin Morgan, in staat om oor te gaan vir sy span se tweede drie onder die pale. Wilbur Boonzaaier maak hierdie keer seker van sy skop en die tuisspan loop 12-5 voor. Die veel ligter pak van Franschhoek staan goed hul man in die skrums en veral die agsteman, Darren Jacobs, het ’n barshou gespeel.

Kort voor rustyd boer Paarl weer in Franschhoek se kwartgebied op soek na punte. Williams breek uiteindelik deur die tuisspan se verdediging vir sy tweede drie en bring die telling op 12-10 te staan. Ryan Jordaan klits die doelskop oor en die manne gaan drink water met die telling op 12 elk.

Die tweede helfte begin stadiger as die eerste met Paarl wat aanval ná aanval loods, maar weer eens nie hul geleenthede in punte kon omskep nie.

Franschhoek word vir swak dissipline gestraf en Williams behaal ’n driekuns aan drieë toe hy weer afrond. ’n Suksesvolle doelskop rek die besoekers se voorsprong na 12-19.

Kort hierna is dit weer die woelwater-agsteman, Jacobs, wat Franschhoek in die wedstryd hou toe hy oor die witlyn duik vir vyf punte. Met ’n mislukte doelskop behou Paarl sy voorsprong van 17-19.

In hierdie stadium is die atmosfeer elektries soos dit net op Groendal- sportterrein kan wees en ondersteuners leef hulle behoorlik uit teen die veld.

Met die wedstryd wat steeds op ’n mespunt balanseer en tyd wat uitloop, val Paarl weer aan vir al wat hul werd is. Franschhoek staan ’n strafskop af en Paarl se skrumskakel, Jovano Sauls, druk die beslissende drie. Wilfred Bowers vryf verder sout in Franschhoek se wonde deur die drie vanuit die hoek te verdoel en bring die telling op 17-26 te staan.

Franschhoek het ’n gulde geleentheid na aan die einde om ’n drie te druk ná ’n puik skop-aangee deur Boonzaaier, maar ’n aanslaan steek egter ’n stokkie hiervoor.

Paarl tree as oorwinnaars uit die stryd met 17-26.

Franschhoek verwelkom eerskomende Saterdag die span van Laer Paarl (Blues) in nog ’n vriendskaplike wedstryd voor die liga amptelik in April afskop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article