’n Plaaslike fotograaf het gister in die Wellington-landdroshof op aanklagte van verkragting verskyn.
Volgens ’n betroubare bron het die man die slagoffer deur sosiale media gekontak en haar ’n gratis fotosessie aangebied.
Die fotograaf het toe na bewering die slagoffer tydens die fotosessie verkrag.
Hoewel die man op net een aanklag van verkragting in die hof verskyn het, het die bron vertroulik aan Paarl Post gesê die verdagte het talle ander vroue op dieselfde manier op sosiale media geteiken.
Dit is nie bekend of enige ander slagoffers na vore gekom en dit by die polisie aangemeld het nie.
“Hy stuur private boodskappe op Facebook aan die vroue en bied hulle dan fotosessies aan. Dan vra hy die vroue om verskeie uitrustings saam te bring, insluitend ’n stel swemklere.”
Die voorval waarvoor die verdagte aangekla is, het voor 2023 plaasgevind, maar die polisie kon hom eers onlangs opspoor en voor die hof bring.
Sers. Wesley Twigg, ’n Wes-Kaapse provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat die verdagte reeds vir ’n formele borgtogaansoek in die hof verskyn het.
Teen druktyd kon dit nie bevestig word of borgtog aan die verdagte toegestaan is nie.
. A local photographer appeared in the Wellington Magistrate’s Court on Wednesday on charges of rape. He was going to apply for bail.


