Die plaaslike fotograaf wat onlangs aangekla is van verkragting het verlede week weer in die landdroshof in Wellington verskyn.
Die verdagte word daarvan beskuldig dat hy ’n jaar gelede ’n 19-jarige slagoffer deur sosiale media gekontak en haar ’n fotosessie aangebied het.
Hy het na bewering die jong vrou tydens die fotosessie aangeval en verkrag.
Volgens Kaylynn Palm, woordvoerder van die organisasie Action Society, het die verdagte ná die voorval gevlug.
Die organisasie het in November verlede jaar ingespring om die verdagte te help opspoor.
Hy is toe gevind en in Stellenbosch, waar hy by ’n nuwe maatskappy begin werk het, in hegtenis geneem.
Volgens Palm het die slagoffer aan haar vertel dat sy die fotograaf sowat twee jaar gelede gekontak het om foto’s van haar te neem, maar hy het geantwoord en gesê dat hy nie foto’s van minderjarige meisies neem nie.
“Die verdagte het toe die slagoffer self weer gekontak nadat sy 19 geword het. Hy het haar glo vertel van ’n kompetisie en selfs ’n billike prys vir die fotosessie aangebied.”
Die verdagte het Vrydag 17 Maart in die hof verskyn en sy borgtogaansoek laat vaar. Hy het weer op Donderdag 30 Maart in die landdroshof in Wellington verskyn.
Tydens sy onlangse verskyning is ’n nuwe hofdatum vir 12 Mei vasgestel en die saak sal verder in die landdroshof in die Paarl voorkom.
Die verdagte word intussen aangehou.
. The local photographer charged with rape appeared again in the Wellington Magistrates’ Court last week.

