Fliek uiteindelik te sien, maar bittersoet oomblik vir Cupido

Die Paarliete Bradley Olivier en Solomon Cupido is te sien in die nuwe fliek Frankie en Felipé wat Vrydag (23 Februarie) in die bioskoop begin wys. Olivier is in Julie verlede jaar oorlede.


Die lang wag vir die fliek Frankie en Felipé om in die bioskoop te wys, is uiteindelik hierdie week (23 Februarie) verby, maar vir die akteur Solomon Cupido is dit ’n bittersoet oomblik omdat hy dit sonder sy mede-akteur en beste vriend Bradley Olivier moet ervaar.

Beide Cupido en Olivier is Paarliete en oud- leerders van New Orleans Sekondêr en het saam gewerk aan die skryf van die fliek.

“Kyk, dit is baie moeilik. Dit is ’n hartseer storie om te weet dat jou vriend van meer as 24 jaar nie daar is nie. My storie kan nooit vertel word sonder Bradley Olivier se naam nie. Hy het so ’n groot deel van my persoonlike storie en my lewe geword.”

Olivier is op 19 Julie verlede jaar in die Life Flora-hospitaal in Johannesburg opgeneem toe hy skielik begin sleg voel het. Hy het die volgende dag gesterf.

“Die movie wat ons gemaak het, is ’n jare lange droom van twee laaities wat elke oggend om 05:45 met die trein kollege toe gegaan het. Een ding waarvan ek hou, is dat die mense so mooi is daar buite – hulle sal nooit vir my sê ‘jou movie is ’n sukses’ nie. Hulle sal altyd sê ‘julle twee’ het ’n baie mooi movie gemaak.”

Cupido vertel baie dinge het hulle met die skryf van die fliek geïnspireer.

“Een daarvan was dat ek en Bradley albei van New Orleans Sekondêr is en ons het in die Paarl grootgeword.

“Ons het groot drome gehad soos enige ander kind, en ons het die geleentheid gehad om aan die Northlink-kollege te studeer. Uit ’n klas van omtrent 50 studente was ons deel van ses studente wat gekies is om by TUT in Pretoria te gaan studeer. Ons was daar en ons het swaargekry en gesukkel.”

Ná hul studies het die beste vriende saam en apart in verskeie flieks en sepies verskyn. Cupido meen hulle twee het ’n stadium bereik waar hy en Olivier hul eie stories wil vertel, en hy erken dit was nie maklik nie.

“Ek dink dit is baie akteurs se droom om te wil produce en skryf en hul eie stories te vertel, maar die ja-antwoord kom nie so maklik nie. Een dag het ons op die grond gesit. Daar was nie melk nie en net ’n klein bietjie koffie. Ek is ’n pa van drie en Bradley is ’n pa van een en ons het net vir onsself gesê die lewe kan nie so aangaan nie. Ek kan nie dat my kind matriek toe gaan en by die huis kom en daar is nie koffie nie en hulle sien ons in dié posisie.

“Ons het net besluit die fliek is iets wat ons wil doen vir ons nageslag. Dit is meer as net vir die Paarl, maar vir die volgende generasie van akteurs. Ons het toe harder gewerk en langer gesit met die storie. Ons het dit toe gepitch en hulle het ja gesê. Dit was basies die omstandighede waarin ons onsself bevind het wat ons verder gemotiveer het.”

Volgens Cupido gaan die fliek Frankie (Olivier) en Felipé (Cupido) oor twee lank verlore broers wat mekaar ná 15 jaar weer sien.

“Daar was ’n stiefpa betrokke en as gevolg van die stiefpa het Frankie besluit om uit die huis uit te trek en om soort van ’n nuwe identiteit te kry. Vyftien jaar later, en die belangrikste week van sy lewe – die week waarin hy gaan trou – vind sy verlore broer Felipé hom. Daai week is net so ’n belangrike week vir sy broer, want dit is die laaste week dat sy broer die geleentheid het om ’n loanshark terug te betaal. So, as mense na die trailer gekyk het, sal hulle uitvind of daar ’n troue gaan wees of ’n begrafnis, of selfs beide op daai Saterdag. Die storie gaan oor broederlike liefde, vriendskap, families, daar wees vir mekaar, weet waarvandaan jy kom en hoe moeilik dit is om soms terug te draai en te aanvaar wie jy is.”

Hoewel Olivier nie in die vlees is om die amptelike opening van die fliek saam met Cupido te ervaar nie, troos Cupido homself met die wete dat Olivier die laaste produk van hul werk kon sien voordat hy gesterf het.

Die goedvoel-storie verseker ’n lekker lag en is iets waarna die hele gesin kan kyk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article