Fisioterapie, of people mechanics, soos die familie van Bronwen Talbot na haar beroep verwys, maak haar opgewonde.
Bronwen is een van die fisioterapeute by Winelands Physiotherapy & Associates.
Hierdie praktyk in Suider-Paarl bestaan uit drie fisioterapeute en een chiropraktisyn. Hulle het ook ’n praktyk in Franschhoek. Al die terapeute is hoogs gekwalifiseer en spesialiseer in gevorderde ortopediese manipulasie, rehabilitasie en sportbeserings.
Boonop is Bronwen en ander kollegas besig met hul meestersgraad in sport en oefening.
Bronwen het meer as 10 jaar ervaring in fisioterapie en die gepaardgaande behandelings.
“Laerug-pyn is een van die grootste probleme wat ons sien en behandel. Die meeste pasiënte met laerug-pyn reageer baie goed met handgedrewe terapie en behandeling wat oefening insluit. Hierdie behandeling is goed nagevors en hierdeur is bewys dat dit werk.”
Winelands Physiotheraphy bied ook pilates en rehabiliterende behandeling wat aansterking ná beserings bevorder.
Bronwen sê baie mense het ’n wanpersepsie van laerug-pyn.
“Bedrus en nie beweeg nie is nie goed vir rugpyn nie. In teendeel, dit kan pyn vererger en dit kan lei tot kroniese pyn.
“Operasies is ook nie altyd nodig met laerug-pyn nie en moet slegs gesien word as ’n laaste uitweg. Om te opereer is nie ’n towerstokkie nie.
“As pasiënte die werk insit en programme en oefeninge volg wat deur fisioterapeute uiteengesit word, is die resultate hiervan ongelooflik in alle aspekte van pynverligting en beweging.”
Bronwyn sê verder as gevolg van mense se hedendaagse leefstyl – baie sit, op die rekenaar werk, stres, slegte postuur en onaktiwiteit – sien hulle baie nek- en rugprobleme.
“Baie hiervan kan vinnig verander en verlig word deur die regte oefening en korreksie van slegte gewoontes.”
Benewens hierdie probleme aan die nek en rug sien die fisioterapeute ook baie sportbeserings aan skouers, enkels, heupe en knieë.
“Elke dag is anders en nuut. Elke besering is totaal anders en dit is wat ons werk as fisioterapeute so lekker maak.
“Ons hoofdoel is om verligting te bring aan ons pasiënte; om hul gehalte van lewe te verbeter sodat hulle gemaklik en pynloos kan beweeg.”
Wat is die rol van ’n fisioterapeut?
. Behandel elke pasiënt/kliënt as ’n individu deur evaluerings te doen en hul behoeftes te identifiseer;
. Gebruik hul vaardighede om die onderliggende oorsake van pyn en beperkings in beweging of funksionering te behandel;
. Gebruik verskillende benaderings tot behandeling om die individu te help om weer mobiliteit te kry en om sy/haar volle potensiaal te bereik;
. Moedig ’n gesonde leefstyl en oefening aan; en
. Werk met kinders om hul koördinasie, balans en ander uitdagings wat beweging betref, te verbeter, sodat hulle so onafhanklik as moontlik kan wees.
Wat kan jy verwag van ’n sessie by die fisioterapeut?
Jy kan verwag dat julle tydens jou afspraak oor jou gesondheidsprobleme sal praat en ’n fisieke toets gedoen sal word om ’n diagnose te doen.
Jy sal ook ’n gespesialiseerde behandelingsplan kry wat by jou behoeftes en jou doelwitte pas. Behandeling kan insluit dat ’n gewrig weer gemobiliseer word, om met ’n hulpmiddel te kan te loop, asemhalingsoefeninge te doen, en raad en oefeninge wat jy tuis moet volg.
“Die vraag is: Wil jy beter voel? Wil jy iets oor die pyn doen?” sê Bronwyn.
“Kom dan na vore en woon jou afspraak by. Dit sal verdere komplikasies voorkom.”
Dit is ook waarom gesondheidswerkers pasiënte altyd aanraai om hul medikasie soos voorgeskryf te neem.





