Die 60 leerders wat die aktiwiteite van die Hilltop Legacy Nasorg by Groenheuwel Primêr in Paarl-Oos meemaak, kon die nuwe skooljaar vanjaar behoorlik gestewel en gespoor ingaan.
Dit is danksy die borgskap van genoeg pare skoolskoene vir almal deur die finansiële adviseurs FFG Wes-Kaap.
“Net soos wat ons trots voel om elke oggend na ons kantoor toe te gaan, wil ons ook hê die kinders moet trots voel om skool toe te gaan. En wat laat ’n mens nou meer so voel as ’n paar splinternuwe skoene?” verduidelik Du Preez Grobler, besturende direkteur van FFG Wes-Kaap.
“Die vooruitgang van ons gemeenskap, ons land en ons kinders lê ons na aan die hart. Dit is vir ons belangrik om nie net ons finansies nie, maar ook ons kennis, liefde en omgee met ons medemens te deel.”
FFG-personeel is reeds sedert verlede jaar by die nasorgdiens betrokke. Sedertdien help van die personeel vier keer per week om eers middagete vir die leerders op te dien, en daarna hand by te sit met skoolwerk, kuns- en kultuuraktiwiteite, sportoefeninge en speletjies. Sodoende bring hulle tyd saam met die kinders deur en mentor hulle die leerders waar moontlik.
Een keer per maand bederf die firma ook die kinders met verrassingspakkies en lekkernye.
As gevolg van die tyd en band wat hulle gevorm het met die kinders, het die personeel raakgesien dat daar ’n behoefte aan skoolskoene onder hulle is. Geld vir 60 pare is gedurende die Kerstyd by FFG-personeel en kliënte ingesamel.
“Dit is vir ons ’n voorreg om by Hilltop Legacy betrokke te wees. Ons het besonderse respek vir die Hilltop-span wat met soveel liefde en oorgawe vir die kinders sorg,” sê die uitvoerende hoof.
“Benewens hulp met die leerders se skoolwerk, word daar ook op sport- en leierskapsontwikkeling gefokus,” vertel Stephanie du Plessis, Hilltop Legacy se projekbestuurder, oor die werk wat gedoen word.
“Ons glo daarin om ’n impak te maak wat oor generasies sal versprei, en om die potensiaal waaroor ons leerders klaar beskik ten volle te ontwikkel.”
Die nasorgprogram by Groenheuwel Primêr is een van die inisiatiewe wat die organisasie sonder winsbejag sedert 2014 onder die jeug van die Paarl bedryf.
Nog ’n projek is Hilltop Runners, ’n atletiekgroep onder leiding van die afrigter en Hilltop Legacy se uitvoerende hoof, Bjorn Alexander.
Hy sê daar word gepoog om deur sport kinders te mentor en te ondersteun om hul volle potensiaal te bereik.
Talle besighede en skole (Boland Landbou, Hoërskool Paarl Gimnasium, Hoër Meisieskool Paarl en Hoër Jongenskool Paarl) het sedert die stigting van die nasorgdiens in 2017 reeds hulp daaraan verleen, onder meer deur skenkings of om personeel beskikbaar te stel om by aktiwiteite betrokke te wees.
Onder die ander maatskappye wat Hilltop Legacy tans ondersteun, tel die Christopher Group, Christo Prins Rekendienste en PSG Bergrivier Boulevard.
Volgens Alexander verwelkom Hilltop Legacy graag nog vrywilligers en skenkers om by hul werksaamhede betrokke raak.
“Ons droom om nog nasorgprogramme te kan begin,” vertel hy.
Vir meer inligting, kontak Alexander by 078 717 0002 of e-pos stephanie@hilltoplegacy. co.za of besoek www.hilltoplegacy.co.za.





