Die opkomende jong fietsryer Ethan Kulsen van die Paarl maak gereed om aan die Afrika-baanfietsrykam­pioenskap in Abuja, Nigerië, deel te neem.

Die kampioenskap het vandag begin en duur tot 17 Julie. Ethan is gebore in ’n familie wat ’n groot liefde het vir fietsry. Dus verbaas sy talent op ’n fiets niemand nie. Sy pa, Elrick Kulsen, is ’n oud- Springbokfietsryer, en sy oupa, Eddie Kulsen, het ook diep spore in die sport in die Paarl en ook oor Suid-Afrika heen getrap.

Ethan vertel dat hy al van jongs af langs die fietsrybaan baljaar het. Sy liefde vir die sport het ten volle begin toe hy vyf jaar oud was. Pa Elrick het destyds ander jonges afgerig, en Ethan was altyd aan sy pa se sy. Vandag is Elrick self sy seun se afrigter.

Die 16-jarige, wat aangewys is as Paarl Post se Junie-sportster vir hoërskoolleerders, is alreeds ’n kampioen en het al heelwat titels in fietsrykampioenskappe opgeraap. Aan die begin van die 2021-’22-baanfietsryseisoen is hy gekroon met drie titels by die Wes-Kaap-baanfietsrykam­pioenskap. Kort daarna in Maart vanjaar het hy onder sy opponente uitgeskiet en vier titels opgeraap by die Suid-Afrikaanse baanfietsrykampi­oenskap by die Velodrome in Bellville. In die juniorafdeling het hy die vier nasionale titels verower vir die 1 000 m- tydtoets, uitvalwedren, puntewedren oor 20 km en die keirinwedren.

Die Klein Nederburg Sekondêr-leerder is ook ’n lid van die DSV Shift-fietsryaka­demie in die Paarl. Hy en sy naelry-spanmaats het ook by die einste SA kampioenskap ’n silwer medalje verower. Elrick vertel ook trots: “Tydens die pas afgelope Wes-Kaap Fietsry se Criteriumliga het Ethan ook die algehele junior afdeling gewen deur in al drie wedrenne agtereenvolgens die junior afdeling te wen.”

Vir Ethan is dit belangrik om die sport waarvoor hy so lief is heeljaar te beoefen. Hy sê om dié rede het hy nie tyd om deel te neem aan ander sportsoorte nie. Hy is vasberade om verder te groei in fietsry en hy oefen vyf dae per week vir meer as twee uur per dag. In die winter is daar padwedrenne en in die somer is daar baan- en padwedrenne.

“Sterkpunte in fietsry is my vermoë om aan langer wedrenne deel te neem op die pad en baan. Ek is nie soseer ’n spesialis-naelryer nie, maar het nogal heelwat spoed. Dit stel my in staat om kompeterend te wees in bykans enige soort baanwedren.

“My gunsteling-wedrenne op die baan is die 1 000 m-tydtoets, die uitvalwedren en die 15 km-bondelwedren. Ek kan nog baie beter raak in al my wedrenne, maar ek poog veral om in die 1 000 m-tydtoets my beste tyd van 1 minuut en 8,2 sekondes te verbeter na onder 1 minuut en 5 sekondes.”

Volgens Ethan beplan hy om ná matriek na Europa te verhuis, waar hy graag ’n kontrak met ’n fietsryberoep­span wil losslaan. Dit is ook die droom, en die ondersteuning van sy geliefdes wat hom gemotiveerd hou om gereeld te oefen.

“Die ondersteuning wat ek vanjaar van die onderwysers en skoolhoof van Klein Nederburg Sekondêr gekry het, het baie daartoe bygedra dat ek kon kwalifiseer om aan die Afrika-kampioenskappe te kon deelneem en my land te verteenwoordig. Daarvoor sal ek die skool ewig dankbaar wees.”

Ethan is soos enige tiener­seun wat in sy vrye tyd sy eie ding doen. Hy is ’n groot aanhanger van F1, Moto GP en die televisiereeks The Big Bang Theory. Ethan is ook lief om muffins en pannekoek te bak.

Met al sy drome voor hom is Ethan nou net gefokus op een ding, en dis om as die Afrika- kampioen gekroon te word.

. Upcoming young cyclist Ethan Kulsen from Paarl is getting ready to take part in the African Track Cycling Championship in Abuja, Nigeria.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article