’n Plaaslike fietswinkel in die Hoofweg in Paarl het Vrydag (28 April) die slagoffer geword van ’n gewelddadige inbraak waarin ’n onbekende aantal fietse uit die winkel gesteel is.
“Die verdagtes het toegang tot die onderneming verkry deur ’n groot klip deur die voorste winkelvenster te gooi.”
So het die polisiewoordvoerder van Paarl, kapt. Louise du Plessis, aan Paarl Post bekend gemaak.
Geen verdere besonderhede oor die inbraak was teen druktyd beskikbaar nie.
Dit is nie die eerste keer dat fietse ’n groot teiken van diefstal in die Paarl is nie.
In Maart 2022 het Paarl Post berig oor ’n wye soektog wat van stapel gestuur is nadat renfietse ter waarde van meer as R1 miljoen van die nasionale fietsry-span van Mauritius op ’n gasteplaas gesteel is.
By ’n vorige geleentheid het Du Plessis gesê die fietse het op ’n Woensdag (16 Maart) in die vroeë oggendure verdwyn.
“Die fietse is Woensdagoggend vroeg by die gastehuis se bestuur as vermis aangemeld toe dit nie in die stoor, waar dit altyd toegesluit word, te vinde was nie.”
Sy het destyds genoem dat die fietse wat by Picardie-gastehuis gesteel is ’n gesamentlike waarde van ongeveer R1 miljoen gehad het.
“ ’n Fietsry-groep van Mauritius, wat [destyds] aan die Kaapstad-fietstoer deelgeneem het, was gaste op die plaas voordat hulle moes vertrek om aan ’n ander ren, die Africa Cycle Race, in Egipte deel te neem.”
Du Plessis verseker dat wenke en inligting vanuit die gemeenskap oor die jongste voorval van inbraak vertroulik hanteer sal word.
. Enigiemand met inligting oor dié voorval in Hoofweg word versoek om die Paarl-polisie by 082 469 1431 of 021 807 4015 te skakel.





