Jonger lesers het behoorlik aan die lippe van die finansiële adviseur en oudjoernalis Leon-Ben Lamprecht gehang toe hy onlangs sy derde kinderboek, Die Feetjiepolisiediens, by die Breytenbach-sentrum in Wellington bekendgestel het.
Dit word deur Tafelberg uitgegee.
Daarin los Kaptein Fanie en Sersant Saarkie van die Feetjiepolisiediens sake op wat verband hou – by die De Beer-huis is pap gesteel, Hansie en Grietjie Fick is weg en hulle moet ook die diefstal van Jan Christoffel Reus se hennetjie, wat goue eiers lê, ondersoek. Al drie stories is losweg gebaseer op bekende sprokiesverhale.
Lamprecht, van Wellington, is ook die skrywer van twee ander kinderboeke, Wie skrik vir Wortel die Wolf? (2021) en Barend die Barbaar (2022).
Die illustrasies is behartig deur die mede-Wellingtonner Zinelda McDonald, wat bekend is vir haar werk aan die Tippie-boekereeks.
Voor die voorlesing het die uitgewer, Michelle Cooper van Tafelberg, uitgewys hoe Lamprecht se stories “op verskillende vlakke” gelees kan word en ook deur volwassenes geniet kan word.
Sy het hom geloof vir die manier waarop hy tong-in-die-kies kommentaar lewer op die samelewing, en op dit wat sogenaamd “sosiaal aanvaarbaar” is of nie is.
Lamprecht het voorheen vir die tydskrif Weg geskryf, en skryf nog gereeld vir rubrieke vir Netwerk24 en Maroela Media, waarin hy finansiële kwessies met ’n tong-in-die-kies-aanslag heel verstaanbaar en leesbaar vir die leek aanpak.
Hy gebruik ook sy humorsin vir die skryf van liedjies, waarvan baie kommentaar op die alledaagse lewer. Hiervan is “Die Sommige A-span Ouers Blues” en “Die ballade van Biltong, die Zombie-hond”, wat op die meeste stromingsplatforms beskikbaar is, sprekende voorbeelde.
Lamprecht het onlangs by die Afri-Indie-musiekpryse in Pretoria die toekenning as die beste nuweling-liedjieskrywer in die mansafdeling ontvang.





