Ná ’n afwesigheid van twee jaar is die gewilde Pinotage & Biltongfees op 23 en 24 April terug.
Altesaam 18 wynplase sal nagenoeg 30 verskillende wyne vir proe en te koop aanbied. Wyne val in ’n hele aantal afdelings – van die tradisionele rooi pinotage tot rosé, vonkelwyn, port-styl, jerepigo en selfs ’n wit pinotage. Elke landgoed op die fees sal een wyn beskikbaar hê wat saam met ’n spesifieke soort biltong, aangebied deur Namaqualand-biltong, geproe kan word.
Die deelnemende kelders by die fees is: Badsberg-wynkelder, Bellevue-wyne, Beyerskloof-wyne, Boland-kelder, Diemersfontein-wyne, Doolhof-wynlandgoed, Doran-wingerde, Du Toitskloof-wyne, Groenland-wyne, Hill & Dale, Kanu-wyne, Koelenhof-wynkelder, Lanzerac-wynlandgoed, Leopard’s Leap-wyne, Mellasat-wingerde, Neethlingshof-landgoed, Overhex-wyne en Perdeberg-kelder.
Kitskos en restaurant-kos sal beskikbaar wees van Eat @ Perdeberg-restaurant, wat ook allerlei lekker versnaperings en die restaurant se a-la-carte-spyskaart aanbied.
’n Oester- en ’n soesji-kroeg sal ook oop wees, waar cap classique en bier te koop aangebied word.
Guy Feldman en sy orkes, genaamd Mista Guy and The Biltong Band, sal optree. Trek jou helderste en vermaaklikste pers-en-wit uitrusting aan en staan ’n kans om ’n lekker prys as bes geklede feesganger te wen. Kaartjies: By Quicket beskikbaar teen R300 per persoon of VIP-kaartjies teen R550 per persoon. Kaartjies is ook beskikbaar vir voertuigbestuurders wat nie sal kan wyn drink nie. Hulle sal steeds al die biltongsoorte by die fees kan proe.
Besoek die Facebook-blad vir nog inligting.




