Suid-Afrika het die hoogste aangetekende voorkoms van Fasa ter wêreld.
Fetale-alkohol-sindroom-afwykings (Fasa) – ’n groep toestande wat deur fisieke, verstandelike en gedragsafwykings geklassifiseer word en wat as gevolg van prenatale alkoholblootstelling voorkom – plaas geweldige druk op Suid-Afrika se maatskaplike, opvoedkundige, gesondheid- en selfs regstelsel. Intervensiestrategieë om Fasa te voorkom, moet die sosiaal-ekonomiese omstandighede van swanger vroue wat drink, sowel as die beperkte emosionele ondersteuning en geestesgesondheidsdienste die hoof bied.
FASA navorsing
Dít is volgens dr. Marlene de Vries van die departement psigiatrie aan die Universiteit Stellenbosch (US).
De Vries, wat sedert 2008 in landelike gebiede in die Wes-Kaap navorsing doen oor Fasa, het onlangs haar doktorsgraad in maatskaplike werk aan die US behaal:. Vroue drink nie doelbewus om hul babas skade te berokken nie. . SA het ’n behoefte aan Fasa-voorkomingsprogramme wat op mans fokus.. Maatskaplike werkers is goed geplaas om ondersteuning aan swanger vroue te bied, maar ook om mans en vroue oor Fasa en gevolge van drankgebruik gedurende swangerskap in te lig.
De Vries het as deel van haar navorsingstudie onderhoude gevoer met vroue in die Langeberg- munisipale gebied, wat voorheen Fasa-voorkomingsdienste gedurende ’n swangerskap ontvang het. Sy wou ’n diepgaande begrip van hierdie vroue se lewe, omstandighede en werklikheid vorm, asook van die faktore wat hul alkoholgebruik gedurende swangerskap beïnvloed het en bepaal watter voorkomingstrategieë nodig is om ’n nugter leefstyl gedurende swangerskap te ondersteun.
De Vries sê baie voorkomingswerk is al deur die jare gedoen – in die gemeenskappe waar sy en haar kollegas werk – en hoewel dit ’n positiewe invloed op baie vroue gehad het, bly die vraag waarom vroue alkohol gebruik, al weet hulle watter negatiewe invloed dit op hul ongebore kinders het.
“Dit is belangrik om te onthou dat hulle nie drink om doelbewus hul babas skade te berokken nie. Wanneer jy na hierdie vroue se stories luister, hoor jy hul swaarkry, die moeilikhede wat hulle beleef het en die rol wat drink as ’n ontvlugtingsmeganisme en die sosiale aktiwiteit in hul lewe vervul.”
De Vries voeg by dat nie een van die vroue in haar studie hul skoolloopbaan voltooi het nie. Dit het hulle in die arbeidsmark kwesbaar en finansieel afhanklik gemaak. “Sommige dra die trauma en verlies uit hul kinderdae saam met hulle as volwassenes en ly aan depressie, maar ontvang geen berading of behandeling nie. Hulle woon in gemeenskappe waar oormatige drinkery oor naweke as ’n normale en aanvaarbare manier van sosiale verkeer beskou word. Hul uitgebreide families, lewensmaats en vriende drink dikwels ook baie.
“Baie vroue is deur hul ouers in die steek gelaat, of het lewensmaats gehad wat dwelms en alkohol misbruik, hulle fisiek aangerand en hulle nie finansieel en emosioneel ondersteun het nie. Hierdie ervarings het ’n baie groot invloed op die vroue se drinkgewoontes gedurende swangerskap gehad.”
De Vries sê haar navorsing toon die ondersteuning wat swanger vroue van maatskaplike werkers in die Fasa-navorsingspan ontvang, het hul lewe positief beïnvloed.
“Dit het vir sommige die moed en deursettingsvermoë gegee om heeltemal op te hou drink, terwyl ander gevoel het die ondersteuning sonder veroordeling het hulle gehelp om hul omstandighede te oorleef.”
steun
Maatskaplike werkers is goed geplaas om nie net ondersteuning aan swanger vroue te bied nie, maar om ook mans en vroue van alle ouderdomme oor Fasa en die gevolge van drankgebruik gedurende swangerskap in te lig, wat hulle in staat stel om ingeligte keuses te maak.
Synde Suid-Afrika die hoogste aangetekende voorkoms van Fasa in die wêreld het en dat kinders wat aan Fasa ly, dit as volwassenes saamdra, is beter ondersteuning nodig vir vroue wat aan ’n hoër risiko van drankgebruik gedurende swangerskap blootgestel is, sê De Vries.
Sy beveel geestesgesondheidsdienste en traumaberading vir hierdie vroue aan waar nodig, asook die ondersteuning van maatskaplike dienste, gesondheidspraktisyns, wetstoepassingsagentskappe en gemeenskapsgroepe.
“Hoewel voorkomings- en ondersteuningsdienste vir Fasa beskikbaar is, maak ’n gebrek aan koördinering, medewerking en beleid oor Fasa dit gefragmenteerd en laat dit die meeste vroue wat hierdie dienste nodig het, in die steek.
“Ons moet nooit die rol onderskat van die ma’s en oumas van swanger vroue wat moontlik alkohol kan gebruik nie. Hierdie vroue leun gewoonlik baie swaar op hul ma’s vir finansiële ondersteuning en om hul kinders te versorg.”
rol van Pa’s
Aangesien die rol van pa’s in die voorkoming van Fasa steeds te laag geskat en afgeskeep word, is daar volgens De Vries ’n behoefte aan Fasa-voorkomingsprogramme wat op mans fokus. Sulke programme moet die belangrikheid van emosionele en finansiële ondersteuning, die rol van lewensmaats in die drinkgewoontes van vroue gedurende swangerskap en die vernietigende uitwerking van huishoudelike geweld op die welstand van vroue en kinders beklemtoon.
Sy beklemtoon ook die sleutelrol wat maatskaplike werkers in die voorkoming van Fasa vervul.
“Maatskaplike werkers moet die metode van groepswerk met adolessente met hoë-risiko-gedrag, pleegkinders, pleegouers en ouer-ondersteuningsgroepe gebruik om gemeenskappe oor die risiko’s, werklikhede en uitdagings van Fasa in te lig en op te voed. Eweknie-ondersteuningsgroepe vir swanger vroue kan ingestel word om ’n omgewing te skep waar hulle voel hulle is daar om ondersteuning en begrip te geniet.
“Ouergroepe kan uitgebrei word om oumas en uitgebreide familielede in te sluit en op te voed oor hul rol in die ondersteuning van swanger vroue en om hulle te help om alkohol te vermy. Maatskaplike werkers moet ook saam met ouers, skole en die Wes-Kaapse Departement van Onderwys werk om te voorkom dat kinders op ’n jong ouderdom die skool verlaat en begin drink.
“Ons het ook groter samewerking tussen die Departement van Gesondheid en dié van maatskaplike ontwikkeling asook ’n nasionale beleid nodig om die beskikbaarheid en gehalte van dienste wat vir Fasa-voorkoming en -intervensie gelewer word, te verbeter,” sê De Vries ten slotte.




