Is jy dié een wat geskiedenisfeite op die punte van jou vingers ken? Dalk is jy juis dié een saam met wie ander wil speel of dalk sal ander jou eerder nie as teenstander wil hê as daar ’n vasvra-kompetisie oor geskiedenis is nie?

As jy nog wonder waar jy jou kennis oor geskiedenis kan toets, dan het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) die perfekte oplossing vir jou: die Internasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade 2022.

Selfs as jy jou kennis oor geskiedenis wil uitbrei of meer daaroor wil leer, bied dié geskiedenisolimpiade jou ook hierdie geleentheid.

Die Internasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade word vanjaar weer vir laerskole en hoërskole aangebied met onderskeidelik die Pionierstydperk (1652-1820) en Groot Trek-tydperk (1820-1845) as temas.

Die klem val op Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Die geskiedenisolimpiade vir hoërskole sal uit twee rondes bestaan. Die eerste ronde, wat op 2 Augustus sal wees, behels ’n aanlynvraestel wat bestaan uit multikeuse-vrae, wat onder meer vrae sal bevat oor idiome uit die Groot Trek, algemene inligting, monumente en erfenisterreine en belangrike mense uit hierdie tydperk, en Westerse geskiedenis oor enkele gebeurtenisse wat tussen 1820 en 1845 plaasgevind het, soos Koning Victoria wat die kroon bestyg het in 1837.

Diegene wat deurdring na die tweede ronde, wat op 9 September sal plaasvind, kry spesifieke onderwerpe oor hierdie Groot Trek-tydperk en moet dan ’n opstel skryf waar standpuntstelling, beredenering en algemene kennis getoets word.

Om deur te dring na die tweede ronde moet ’n kandidaat minstens 80% in die eerste ronde behaal het.

’n E-publikasie oor die Groot Trek-tydperk (1820-1845) is opgestel om as bron te dien vir vanjaar se toets. Let wel dat die aanlyntoets nie ’n oopboektoets is nie.

Laerskoolleerlinge van graad 4 tot graad 7 sal ’n aanlyntoets op 16 Augustus moet skryf. Hulle sal weer ’n e-publikasie oor die Pionierstydperk (1652-1820) as navorsingsbron tot hul beskikking hê.

Deelnemers kan van 7 Maart by projekte.co.za inskryf. Daar is kontantpryse vir die wenners op die spel en alle deelnemers sal ’n deelnamesertifikaat ontvang.

Die wenskole ontvang R5 000 tot R10 000 en ’n FAK-wisseltrofee vir geskiedenis.

Alle navrae kan gerig word aan chrisna@kultuurtuiste.org.za of per WhatsApp by 083 460 6017.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article