’n Ossewatrek voor die opstal van Piet Retief se geboortehuis in die vroeë 1900’s.

Credit: SYSTEM

’n Groep dapper stappers het die afgelope naweek saam met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) in die historiese spore van die Voortrekkerleier Piet Retief op sy geboorteplaas gestap.

Piet Retief het die eerste 27 jaar van sy lewe op Welvanpas, Wellington, deurgebring – een van die feite oor hierdie Groot Trek-leier wat die stappers so langs die roete kon ontdek, saam met vele ander wat teen die bome langs die roete is.

Rinie Hansen, een van die stappers, sê hierdie ervaring was nie net pret nie, maar ook ongelooflik verrykend.

“Die prettige manier van blootstelling en bewusmaking van ons ryk erfenis help oud en jonk om die feite te onthou. Ek het opnuut weer geleer dat ’n sterk leier nodig is saam met orde en struktuur. Ons het dit broodnodig in die tydsgees waarin ons leef. Ons eer ’n leier wat op ’n tragiese wyse die hoogste prys betaal het. Sy eerlikheid, integriteit en opregte bedoelings word gesalueer,” sê Hansen.

Juanine Kok, kultuurkoördineerder van die FAK in die suidelike streke, sê dit voel of ’n mens Piet Retief op die staproete amper persoonlik leer ken.

“Hy was ’n man met ’n ingebore talent om te kon regeer en wat soveel respek by trekkers tydens die Groot Trek gewen het dat hy met sy aankoms in Winburg as eerste goewerneur verkies is,” sê Kok.

Die groep het op die roete – al langs ’n bergstroompie, deur varings, om wingerde, deur ’n dennebos, deur fynbos tot by ’n waterval – gesels en die lewe van die Groot Trek-leier bedink.

Alwyn Beetge se voorouers het saam met die Potgieter-trek die binneland ingevaar. Vir Beetge was hierdie ervaring opnuut ’n besef van die opoffering wat ons voorouers gemaak het.

“Dit was ’n voorreg om in die voetspore van die 27-jarige Piet Retief te loop. As ’n nasaat van die Voortrekkers het die stap my opnuut laat besef watter opoffering hulle gemaak het vir hul drome van vryheid en reg. Hierdie geskiedenis-staptogte bring nuwe insigte en is verrykend.”

Jeanette Riley het ook haar stewels aangetrek.

“Soos altyd was dit ’n fantastiese brokkie geskiedenis oor Piet Retief en die feit dat dit op so ’n pragtige, geskiedenisryke plaas van die Retief-familie gedeel is, het dit soveel beter gemaak,” sê Riley.

Piet Retief was ook die outeur van die manifes waarin die redes vir die Groot Trek vervat is. Sy ideaal was om ’n vrye republiek vir sy mense tot stand te bring in Natal sonder vreemde inmenging en met ’n hawe sodat daar vrye toegang na die buitewêreld was.

Dit het hom in kontak gebring met die Zoeloekoning Dingaan, met wie hy vir grond onderhandel het. Dit het egter tragies geëindig toe hy en ongeveer 70 man saam met hom, insluitend sy jong seun Pieter, verraderlik deur Dingaan se impi’s op 6 Februarie 1838 vermoor is.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê Piet Retief kan vir ons almal ’n inspirasie as leier wees.

“Die wysheid van Retief en die ongelooflike leiersvaardighede wat hy getoon het, het ’n impak gemaak op enigiemand wat met hom in kontak gekom het,” sê Langner.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article